Swaarkaliber Springhaas-jag en Reverse Mentoring

Posted June 18, 2009 by tiaan
Categories: Opleiding, Suid Afrika, jeug

So ‘n paar naweke gelede het ek saam met twee van my jeug-vriende (hulle is my vriende, eintlik meer soos broers, maar hulle is in ons jeug) springhase gaan jag. Nie jaag nie, jag. Dit was laat een Saterdagaand, na al die Super 14 wedstryde gespeel was en dit was die hele dag reënerig en winderig. Toe ons uiteindelik die aand uitgegaan het, was dit bitter koud.

Gelukkig help dit om so twee windbreakers bo-oor mekaar aan te trek, veral as jy in ‘n rhino ry. Die goed het mos nie vensters of niks nie, so die koel naglug het ysig op ons gesigte gespeel.

Nou hoekom swaarkaliber? Want ons het met ‘n 30.06 gaan jag. Okay, vir party mense is daar seker niks snaaks daaraan nie, maar ek is gewoond om sulke lawwe goed met iets soos ‘n .22 of hoogstens 243 die hiernamaals in te blaas. Dis nou wanneer hulle nie sommer geskop of teen ‘n bakkie se wiel geslaan word nie (die DBV gaan my seker kom toesluit hiervoor..!).

Maar okay, ek maak nie die reëls nie, so hier is ons die koue, donker nag in met die geweer, ‘n pak patrone, ‘n klein spotlight en twee sterker skietlampe, op soek na klein, harige, langoor ongediertes wat raaplande en ander gesaaides verniel.

Behalwe dat ons op die ou end net twee hase kon plattrek (albei pensskote), was dit eintlik ‘n opwindende, lekker aand. Dit was ook ‘n aand waar reverse-mentoring weer eens vir my so duidelik soos nog iets geword het. Hoewel ek weet hoe om met ‘n geweer te werk en nie nervous rondom die goed is nie, het ek eintlik lanklaas gejag, veral in die aand (en my sig is dan op sy slegste). Dit was duidelik hoe die rolle omgeruil het tussen my en my vriend op wie se plaas ons was. Al is ek gewoonlik die ‘jeugwerker’/’mentor’, was hy die een wat die shots geroep het, wat bestuur het, wat die leiding in die situasie geneem het.

En dit was vir my goed. Want dit is sy terrein, is dit nie? En is die hele mentor-ding, soos ek dit verstaan, nie juis ‘n plek waar ons albei by mekaar kan leer, eerder as wat ons net in ‘n leermeester-leerjong situasie staan nie? Mentoring is tog ‘n verhouding waar die “mentor” die “mentee” sekere skills leer, maar ook bereid is om deur die “mentee” sekere skills geleer te word in ‘n area waar die “mentor” nie oor die nodige kennis beskik nie.

Dis lekker om dit saam met jongmense te kan doen. Dis opwindend. Try dit, ek dare jou.

Nog ‘n blog … dis aansteeklik … die keer ‘n meer akademiese een

Posted May 17, 2009 by Ronald
Categories: Uncategorized

Ek het maar ‘n tweede blog begin, waar ek Engelse goed gaan post. Dit sal meer akademies gerig wees. Ek het klaar daar ‘n post gepost, wat handel oor die koninkryk van God. Dit, en die mooi prentjie, en die opstel van die blog, en veral die bietjie naslaanwerk, het gemaak dat ek nie by my werk gister (en vandag) uitgekom het nie. :)

Interdenominasionele Samewerking

Posted May 10, 2009 by tiaan
Categories: Uncategorized

So, hier is ‘n interesting take op die tema: die NG-outjie is die regterbreiner en die AGS-dude is die analis! Hehehe…

Ek moet sê, God se humorsin is bitter fyn en as jy nie mooi kyk nie, gaan jy dit mis. Amper soos British humour: nie almal vang dit nie, maar die wat dit wel vang, dink dis skreeusnaaks.

Ek, die regterbreiner, reël as jeugpredikant in die NG gemeente saam met die Analitiese dude, die AGS-jeugpastoor, aan 2 jeugweke wat vandag in ons dorp afgeskop het. Ek het die entoesiasme en die let’s-do-it en reël die vergaderings, en hy help my om net te stop en te kyk: wat moet eerste gedoen word, sodat die ander goed in plek kan kom. Lekker, nè?

Die lewe gaan mos maar dikwels oor balans.

Nog goed wat hulle ons nie geleer het nie

Posted April 24, 2009 by Ronald
Categories: Fakulteit, TUKS, Teologie

Een ding waaroor ek regtig spyt is, is dat ek nie hard genoeg gewerk het toe ek besig was met die ‘normale’ teologie-program nie (BTh & MDiv). ‘n Hele aantal mense sal seker met my hieroor verskil. Nogtans sal hulle moet herken dat die enigste module wat ons oor die geografie van Israel gehad het, by hulle ook verbygevlieg het.

Ek sit nou dikwels met die probleem dat ek nie feite kan integreer in my historiese raamwerk nie – seker minder as party ander mense, maar dit voel tog vir my asof daar ‘n leemte is hier. ‘n voorbeeld, wat ek op ‘n paar ander oud-Tukkie (uitblinker) teologie studente uitgetoets het, is die van Sepphoris. Hier is nog ‘n plek waar mens daaroor kan lees, en hier - die laaste een is geskryf deur die direkteur van opgrawings by die plek. Sepphoris was ‘n groot stad wat naby aan Nasaret was – stapafstand, so 6km. Daar was groot gebouery in die tyd dat Jesus ‘n jong seun was in Nasaret. Dis belangrik! Niemand het my daarvan vertel tot na ek klaar geswot het nie! (Maar prof van Eck, glo ek, vertel nou die studente daarvan.) Nog ‘n openbaring – en noem my maar ‘n swaap – is dat Galilea deel was van die Noordryk. Ek dag die Noordryk het in 722vC geval, daar was niks oor nie, net die Suidryk en die Samaritane! (Hierdie een blameer ek uit en uit net op myself, nie die fakulteit nie.)

Hoekom het ons nie ‘n beter historiese raamwerk na universiteit nie?
In dieselfde asem moet ek ook noem dat ons deeglik voorberei is ten opsigte van sosiaal-wetenskaplike studies. Een van die predikante waar ek my gemeentejaar gedoen het, het genoem dat dit hom ure vat om die agtergrond studie te doen – vir my kom dit natuurlik, en die rede hiervoor kan ek eenvoudig net voor die voete van die teologie fakulteit en die Antieke Tale departement lê.

Hoe prop mens in elk geval alles in 6 jaar in?

Wat van tiener-huisbesoek?

Posted April 14, 2009 by tiaan
Categories: Uncategorized

Ek gooi sommer ‘n ou klippie in die bos en so, terwyl ons saamdink oor tienerbediening:
In ‘n gemeente waar ons presies 104 13-18-jariges op die boeke het, dink julle dit sou sin maak om huisbesoek by die kids te pleeg? Vat ‘n bietjie die Bybel (ha-ha) na hulle toe in plaas daarvan om te verwag hulle moet ons Jeugbyeenkomste bywoon? My idee is om so deur die week by die kids (gelukkig is daar heelwat boeties en sussies) uit te kom – seker maar in die aande of laatmiddag, want hulle is besig met sport en random middagaktiwiteite. Ook obviously nie alles in een week nie, duh.

Ek weet in ‘n stadsgemeente is so iets ietwat ridiculous, maar hier op die platteland is ek lus om dit ‘n go te gee. As die ou goed nie werk nie, moet ons seker maar nuwe (ou) maniere uitprobeer. of hoe? My idee is om dit net soos ‘n kuiersessie te maak, nie noodwendig hierdie heavy teologiese “hoekom kom jy nie jeug toe nie?” – ding nie. Laat hulle net weet: hey, hierdie ou probeer nie snaaks wees nie, hy wil actually hoor hoe gaan dit met my.

Ek weet nie, wat dink julle?

ai, die fundies tog…

Posted April 9, 2009 by cobus
Categories: Fakulteit, Godsdiens, NG Kerk, TUKS, Teologie

Tags: , ,

My naïewe “glo soos ‘n kind”-geloof is sekerlik ten sterkste gebreek die dag toe die ma van ‘n goeie vriendin vir my gesê het ek moet my roeping gaan heroorweeg – ek het dit beleef, of dalk het sy dit gesê, dat sy dink ek is nie meer ‘n Christen nie – dalk was sy reg, maar meer daaroor netnou.

Tydens my universiteitsjare het ek en Ferdie Mulder nogals goeie vriende geword. Die vriendskap het egter baie sleg geëindig. Ek het nog nooit regtig daaroor geskryf nie, en gaan ook nie nou nie. Ek haal maar net die woorde aan uit die enigste blogpost waar ek al daaroor gepraat het:

Some of you might remember the Ferdie Mulder case. On that note, for those of you reading Afrikaans, maybe take a look at his view and that of the church here, here and here. But actually this is just a very hurtful part of my own history, if you skip all those links it might be best. UPDATE: All these links seem to have died since I wrote this a year or so ago. If anyone know where they have gone, I’ll appreciate some tips.

Net toe ek gedog het hierdie stukkie van my geskiedenis is agter die rug, toe ontdek ‘n paar mense dat daar geblog word by teo@up deur ‘n klompie teologiese studente, en dit word hulle favourite plek om te comment. Ek is nie seker waarmee hulle besig was nie, maar ek vermoed dat die teorie basies was dat as jy die leerling verkeerd kan bewys, dan is die leermeester outomaties skuldig, of so iets. Hulle het elkgeval duidelik hulle mes hoofsaaklik vir dosente by UP ingehad.

Comments soos hierdie, waar van ons tot bekering opgeroep is, moes die eerste tekens gewees het dat hierdie gesprek nêrens heen oppad is nie.

Wat dit ook duidelik moet maak is al die massas uitnodigings na ‘n persoonlike ontmoeting, en ‘n gesels oor hierdie teologiese sake rondom koffie. Ek nommer sommer die links: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10. Die uitnodiging het lank gestaan, maar skynbaar verkies die aanhangers van watookal mens hierdie beweging moet noem om liewers beskuldigings rond te gooi op die internet. Ek moes tot die konklusie kom dat hulle nie regtig belangstel in gesprek, soos wat Matteus 18 ons tog na roep nie, maar suiwer in publieke afkraking van die ander. Die van julle wat bekend is met die sosiaal-wetenskaplike navorsing, of selfs net die kruisigingsverhalwe fyn gaan lees, sal dit erken as ‘n soortgelyke trick as waarmee die Joodse leiers besig was rondom die kruisiging. As jy nie bekend is met hierdie navorsing nie, maar graag meer sal wil weet, staan die koffie-uitnodiging vir jou ook. Persoonlike ontmoetings is nogals belangrik vir die emerging crowd, vra maar vir Guillaume

‘n Paar ander dinge het my ook by die punt gebring waar ek hierdie post skryf. Een daarvan is onlangse comments wat my net laat besef het dat hierdie kommentatore ‘n totale gebrek aan insig rondom die kerkgeskiedenis openbaar. In ‘n comment wat ek gedelete het omdat dit my voorwaardes nie in ag geneem het nie (ek sal dit email aan enigiemand wat sou belangstel om te sien), is artikel 2 van die NGB as panenteïsties beskryf… nou, as my onderskrywing van die NGB problematies begin raak, dan weet ek nie meer waarheen vorentoe met die gesprek nie. As die feit dat ek met Paulus saamstem oor die algemene openbaring in die natuur (Romeine 1:20) van my ‘n “nie-Bybelse Christen” maak, dan maak dinge vir my nie meer sin nie.

Seth Godin skryf nogals mooi daaroor dat partymaal moet jy maar net ophou terugkyk en werk vir dit waarin jy glo. Ek het Tribes net gisteraand klaargelees. As ek nou woorde uit Lukas 9 heeltemal uit verband kan ruk (of dalk nie), dan is dit iets soos:

“Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Fundamentalisme maak vir my sin. Face it, ons leef in tye waar die kerk verander. Tyd era van Christendom is verby (bl 11-12 van my mini dissertasie van laas jaar, of massas en massas bronne in boeke en op die internet wat jy hieroor kan gaan raadpleeg), en in tye van verandering dan het jy altyd teruggrypings. Fundamentalisme is ‘n voorbeeld daarvan, net jammer hulle gryp terug na iets wat jy nie op enige plek in die geskiedenis van die kerk gaan kry nie (gaan lees gerus Luther, Calvyn, Aquinas, of enige kerkvader).  Ek gaan egter nie langer terugkyk na die pad van die fundamentalisme nie, maar vorentoe op die pad wat ek glo God my gelei het.

Nou, die punt van hierdie ellelange post: Hier by die anderkant het ek gekies vir ‘n anderste benadering. In die woorde van een van hierdie kommentatore, Amanda:

In die ontluikende kerk gaan dit nie oor eng doktrines nie, maar ‘n eerder oor die vestiging van God se Koninkryk hier op aarde deur te lewe in die weg van Jesus.

Ek sou kon sê dat dit vir my oor ‘n paar ander dinge ook gaan, maar daai is nogals ‘n nice opsomming.

Dus, groet ek julle. Ek sit my reis voort om te soek na God hier van die anderkant af. Ek kan julle waarborg dat Tom Lessing sal kommentaar lewer op hierdie post, maar siende dat ek nie weer daarheen gaan link nie, sommer nou die link. Dit is dan ook sommer die blog waarheen ek jou verwys as jy die heksejag op bykans enige predikant van die NG Kerk wil volg. Ek neem vrymoedigheid om vrylik comments te delete wat op hierdie blog verskyn wat enigsins aan hierdie heksejag deelneem, en nie dialoog (soos David Bosch dit mooi verduidelik het) bevorder nie. So weet dit, Kobus, Thomas, Amanda, DTW en wie ook nog lus het vir comment hier. Ek beveel aan dat jy die IMonk se comment policy gaan lees, want ek like dit, en maak dit sommer nou myne ook. Dit geld ook vir my ander blogs.

Daarmee groet ek dan.

beste boek op jeugbediening?

Posted March 30, 2009 by cobus
Categories: Boeke, jeug

OK, hoogtyd dat ons weer bietjie hier by teo@UP begin blog. Almal van ons wat hier blog is nou klaar met die verpligte swottings ding, maar at least twee van ons swot nog. Almal wat hier blog, blog egter nou iewers anders ook. So ek het in my doel geslaag! Dalk moet ons nou ‘n paar nuwe bloggers hierso kry???

Elkgeval, net om te noem. Ek dink ek mag dalk net die beste boek op jeugbediening ontdek het wat ek nog gelees het… OK, ek’s op bladsy 45, maar nogtans, dis goed. En vir julle wat dink jeugbediening is regtig nie jou ding nie, want jy’s nie die hero met die kitaar nie, hierdie moet jy lees. Goed goed, ek sal weer skryf as ek actually klaar is. Maar vir die wat my leesgewoontes oor die laaste twee jaar opgetel het, om op bladsy 45 te wees en actually nog te lees is ‘n rekord!

Hier is dit dan: Practicing Discernment with Youth. Sal like as van julle ook dit wil lees, wil graag bietjie feedback hoor van ander af.

Los my maatjies uit!

Posted March 5, 2009 by tiaan
Categories: Uncategorized

Ek wens soms ons was nog in die laerskool en dat jy vir ‘n ou soos Sarel van der Merwe wat ander mense se name sleg maak kon sê: “Los my maatjies uit!” of hom na die hoof toe vat en sê hy boelie jou. Want dit is basically presies wat hy doen. Maak my kwaad om te sien wie die nuutste ouens is wat vir hulle wickets moet keer net omdat dié betrokke dvd-maker en sy tjomme so besluit het.

Dit geld natuurlik vir almal wat die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria, sy/haar studente en sy/haar dosente so met agterdog bejeën en hulle aanval. Hoe is jy op die skoolgronde geleer? maatjies maak nie so nie!

Imagine gou iemand wat jy glad nie ken nie storm op die speelgrond op jou af en dring aan om by jou te weet: “Glo jy dat Mnr. Van der Merwe fisies, liggaamlik en letterlik die skoolhoof is????”

Ek was die afgelope 3 dae op ‘n predikantekonferensie van die Natase Sinode by Drakensville. Hoe lekker om te netwerk, met ou en jong predikante te chat en hulle drome vir hul bediening en die lewe te hoor! Dis iets wat ek op Fakulteit geleer het: jy hoef nie die wiel elke keer van vooraf te ontwerp nie – vra iemand waar is die tyre-plek.

Ouers en Tieners

Posted February 13, 2009 by tiaan
Categories: Uncategorized

So, antwoord gou vir my hierdie ene: hoekom sal ‘n ouer sy tienerdogter belet om die kerk se Jeuggroep, waarvan sy nou al 3 jaar lank deel is, by te woon, omdat hy nie van die outjie hou met wie sy ‘n verhouding het en hy DALK daar mag wees nie?

op ‘n “kerk-manier”…

Posted November 17, 2008 by cobus
Categories: Fakulteit, NG Kerk, TUKS

So, ons is nou proponente! Sterkte (ek het besluit sterkte is meer in orde as geluk in hierdie geval) ook aan Nicole en Tiaan, wat hier blog, en ook die ander vriende wat saam ons daar gestaan het…

Ons het geleentheid gekry om dankie te sê. Almal het dadelik geweet Nicole moet praat, sy is immers die een wat ons verteenwoordig, wat instaat is om almal in liefde bymekaar te hou. Om een of ander random rede is ek ook aangesit om daarmee te help. Nou, oor die hele dankie speach wil ek nie veel sê nie, behalwe dat ek amper begin tjank het toe ek op ‘n plek bietjie in kort die storie van ons klas vertel het, en ook toe ek…

… dit is waaroor hierdie post gaan, oor die eerste keer toe ek ampre getjank het (die storie was die tweede keer). Mens sonder mos nie mense uit as mens dankie sê nie, mens praat oor ma’s en pa’s en boeties en sussies, en dominees en sondagskool tannies, en proffies en klasmaats… maar ‘n paar mense moes uitgesonder word. En oor en oor sou verskillende mense uit die klas sê dat vir wie ons moet dankie sê is ons drie proffies wat aangekla is gedurende ons swot-tyd. Ja, op die detail wil ek nie nou ingaan nie, dis genoeg om te sê dat dit flippen sleg was, en dat die ringe uiteindelik bevind het dat die klagtes ongegrond was.

Het ek gesê dit was sleg? Dit was vrek sleg! Vir ons, maar ook vir hulle. Partymaal kon ons dit sien. Meeste van die tyd het dinge maar net aangegaan soos altyd, maar ons het geweet… dit is sleg. Waarvoor hulle uitsonder? Wel, vir die manier waarop hulle dinge hanteer het. Jy sien, daar is ‘n kerk manier waarop dinge hanteer word. En hulle het dit vir ons gewys. Hulle het vir ons iets geleer van hoe mens optree die dag wanneer die kerk jou begin aanval…

Ek kan nie sê ek gaan die voorbeeld volg nie, partymaal is ek lekker hardekop. Hopelik is dit natuurlik nooit nodig nie, maar op ‘n manier wonder ek… maar as ek ooit op ‘n punt kom waar dit nodig is, hoop ek dat ek hulle voorbeeld gevolg sal kan kry.