Community deur ‘n taxi-rit

Posted Oktober 11, 2010 deur drien20
Kategorieë: Ekologie, Oop gesprekke, Suid Afrika

Tags: , ,

Ek het bietjie lanklaas my teologie-skryf-hoed opgehad, maar hierdie saak raak my nogal redelik na aan die hart.

Ek sit en lees vanmiddag die kerkbode. Ek probeer maar op hoogte bly met die stuff in die kerk en die wêreld en daai tipe van ding. Hierdie een artikel in die Oktober uitgawe het my nogal geraak. Andries Conradie, ‘n afgetrede skoolhoof skryf: “God, waarom lyk die wêreld so?” Eers dink ek hy gaan skryf oor die geweld en die misdaad en hoe sleg dit in ons land gaan soos wat ons almal maar gedurig hoor en lees oral. Maar ek is aangenaam verras toe dit ‘n positiewe storie is van hoe ‘n afgetrede wit man ‘n lang-afstand taxi vat van Kokstad na Johannesburg.

Hy skryf hoe hy die laaste sitplek kry op die taxi en hoe die bestuurder en die res van die passasiers hom gehelp het om gemaklik te wees en tuis laat voel. Hulle vra hom toe of hy nie ‘n kar het dat hy self kan ry nie. So iets wat ons so maklik as vanselfsprekend ervaar. Hy praat van hoe hulle na lekker Afrika musiek gesit en luister het en “dit word afgewissel  met stemmige Gospel-sang waarby passasiers lustig inval en vir die oningewyde ‘n knop in die keel gee”. Ek is nie groot op die gospel nie, maar ek het al beleef hoe ons VGK broers en susters kan sing en dis rerig ‘n belewenis. Maak my sommer weer lus om deel te wees van alles wat te doen het met die kerk. Maar in elk geval, terug by die storie, hy sê dat later hulle country begin luister en so begin hulle debatteer oor vroueregte en allerhande ander sake. Dit is nou community soos wat ek dit sal verstaan. Mans, vrouens, wit, swart almal besig om lekker saam te gesels en by mekaar te leer en net saam te wees.

Hierdie bring my by ‘n ander punt. Hierdie ding dat ons so een-een in ons eie karre eerder werk toe ry as wat ons bietjie gebruik maak van ons publieke vervoer stelsel. Ek het vir die beter deel van die afgelope twee jaar bus gery in Pretoria van die huis af na die Universiteit toe en weer terug. Ja jy wag so bietjie, maar ek hoef nooit te ge’worry’ het oor parkering of petrol joggies wat staak of al daai jazz nie. Jy ontmoet die weirdste en die coolste mense en jy gesels hond uit ‘n bos met die mense wat jy dan weer raakloop. Oom Andries skryf: “vir diegene wat wel deesdae gebruik maak van treine en busse, word persoonlike gerief van die grootste belang geag.” Dis waar, en ek kan relate. Ek meen as jy nou vir ‘n rukkie gaan sit dan wil jy darem gemaklik sit, maar ek dink ons moet bietjie uit ons comfort zones uitskuif. En hiermee bedoel ek nie, los als en gaan op ‘n uitreik hier iewers bo in Afrika om ‘jouself te vind’ of whatever nie, ek bedoel gaan gesels met iemand nuut more of ry saam met ‘n werkspel saam werk toe en help die verkeer en die aarde sommer op 1 slag 😉

Hy skryf ook dat hy wonder hoe baie van ons die moeite gedoen het om in die sokker wêreldbeker tyd bietjie dieper in die townships te gaan kuier of net bietjie rond te loer. Ek moet bieg ek het nie. Ek was in my comfort zone in my huis in my dorpie. En ek kan nou talle verskonings uitdink, maar die feit bly staan dat ons eintlik so min weet van hoe ons swart mede-burgers lewe en die lewe verstaan. Dink net hoe baie ons kan leer as ons net na mekaar wil luister.

 

Advertisements

Dominees is ook maar mense

Posted Mei 18, 2010 deur drien20
Kategorieë: NG Kerk, Oop gesprekke, Suid Afrika

Ek het gisteraand heel onverwags (eintlik ongenooid) opgedaag by ‘n kuiertjie wat een van die dominees by NG Doornpoort gereel het vir een van die grootste fasiliteerders in die kerk, Frederick Mare. Soos jy kan imagine was daar lekker kos en lekker wyn en natuurlik hope goeie gesprekke.

Ek het nie vreeslik bygedra tot die gesprek nie, want let’s face it, ek weet eintlik maar nog niks nie… maar dit was interessant om te sit en luister en net in te neem wat gebeur. Ons het eers gesels oor ditjies en datjies, gehoor van die mense se travels en so aan. Een dominee en sy vrou was onlangs in Nederland en London om bietjie die kerk daar uit te check en ons het die stories gehoor van wat gebeur het. Frederick en ons gasvrou was ook al daar, oeg en toe begin die stories eers! Dit was groot pret om te hoor wat daai Hollanders aanvang haha. Hulle het soos 2 handdoeke vir as jy nou klaar gebad het. Een vir bo en een vir onder! En kan jy jou nou in dink wat hulle gaan dink as hulle sien ons gee net vir hulle een!

In elk geval toe praat ons bietjie oor die emmigrasie van Suid-Afrikaners en die Afrikaanse kerke wat gestig word in die buiteland soos Auckland en London. Maar die interessante van hierdie gesprek was dat hierdie mense eintlik verloor wat regtig aangaan in SA. Hulle hou vas aan die verlede en dink dis maar hoe ons aangaan hierdie kant. En eintlik is ons besig om heeltyd te verander, om aan te pas. Suid-Afrika nou lyk anders as 4 of 5 jaar terug, nie eers te praat van 10, 15, 20 jaar nie. Ek kan nogal hiermee saamstem, want ek het self familie in Kanada wat nou 11 jaar al daar is. Hulle verstaan nie regtig wat aan die gebeur is nie en alhoewel hulle Suid-Afrikaans wil bly, is hulle eintlik nou al Kanadese.

Dit was goed om te sien hoe hierdie predikante net bietjie ontlaai, net bietjie met hulle kollegas kan  sit en gesels oor wat aan die gebeur is in hulle gemeentes, families en eie lewens. Dit was goed om te sien dat hulle ook maar kan gesels oor dinge wat pla, maar ook oor dinge wat hulle opgewonde maak, om net saam te kan lag oor stories en ervaringe. Dit was goed om te sien hoe dominees ook maar mense is.

Relationships Unfiltered – Andrew Root

Posted April 22, 2010 deur drien20
Kategorieë: Boeke, jeug

Ek het die afgelope ruk bietjie tyd spandeer om hierdie boek te lees en dit was definitief tyd baie goed gespandeer.

Hy fokus op jeugbediening i.t.v verhoudings en hoe om regtig daar te wees vir adolossente. Om nie net die ‘hoe’ vrae te vra nie, maar die ‘wie’ vrae. Met ander woorde ons moet nie konsentreer op hoe ons hulle by die jeugaksies te kry, hoe moet ek cool genoeg wees, ens. Ons moet eerder kyk na wie ons kan wees saam met hulle, soos wie Jesus was vir Sy dissipels en die mense rondom Hom. Hy meen dat as ons ‘n effektiewe jeugbediening wil hê moet ons bereid wees om in ‘n verhouding met hierdie einste jeug te tree, om nie net ‘n kennis te wees nie, maar iemand wat hulle pyn saam met hulle aandurf. Hy praat van ‘place-sharing’. Ons moet nie noodwendig al die antwoorde hê nie, maar ons moet saam met hulle in daardie plek van angs, vrees, pyn, lyding, drome, vreugde ens. wees.  Maar, sê hy, ons moet ook weet wanneer om nee te kan sê. Daardie fyn balans tussen die oop en toe van verhoudings, sodat ons nie onsself in mekaar verloor nie.

Wat vir my vrek nice is van hierdie boek is dat hy voorbeelde uit sy eie lewe gebruik om sy standpunte deur te gee. Dis asof dit die hele idee van sy boek real maak. Soos bv hy sal praat van toe hy sy seuntjie moes leer om te slaap. Dit het nie gewerk om hom elke keer op te tel en te sus nie. Hy en sy vrou het op ‘n opblaasmatras geslaap langs die kot en elke keer as hy wakker geword het, het hy net vir hom laat weet dat hy daar is vir hom. Hy’t nie noodwendig opgespring en hom dadelik vasgehou nie, hy’t net saggies gepraat en hom laat weet dat hy nie alleen is nie. Hy was sy seuntjie se ‘place-sharer’.

Uiteindelik dink ek om ‘n effektiewe jeugwerker, vrywilliger of watokal te wees moet ons daardie stap kan neem en moeite doen om hulle nie net te beïnvloed nie, maar om net daar te wees in verhouding, om ‘n ‘place-sharer’ te wees.

Drumming circle… wat’s dit?

Posted Maart 27, 2010 deur drien20
Kategorieë: jeug, Musiek, Suid Afrika

Tags: ,

Ek was gisteraand by ‘n drumming circle gewees. Een woord kan dit beskryf: Awesomeness!!

Dit was regtig een van die lekkerste ervarings wat ek nog ooit gehad het. Aanvanklik was ek maar skrikkerig daarvoor, want dis nie regtig iets waaraan ek gewoond is nie, maar my vriendin (wat ook teologie swot) het my omgepraat en nou ja ons vat toe die pad en gaan geniet dit. Dis ‘n baie lekker vibe nog voor jy eers begin het met die dromme. ‘n Area is uitgelê vir ‘chilling’, daars ‘n bar, die drumming circle (ja, letterlik ‘n sirkel) en dan nog ‘n area afgesper waar mense met vuur speel, of eerder toertjies doen.

Dit kos jou so 40 bokke om ‘n drommetjie te huur, maar dis regtig die moeite werd. Daar is mense van all over wat net hulself kom inleef in die beat. En ek oordryf nie as ek sê van all over nie. Daar’s hippies en teologie studente, weird mense, jocks, geeks, gays, straight, swart, wit, vrouens, mans, kinders, ou mense, ‘n mengelmoes van die mense van ons rainbow nation. En ek LOVE dit!!

Iemand begin gewoonlik met ‘n beat en dan gaan jy aan van daar af. Jy hoef nie eers ritme te hê om te join in die pret nie, jy kan net jou drommetjie slaan na hartelus. Ek het self sommer net paar keer gesit en luister na die beat. Jy vergeet van die kantoor, van die leerwerk van die regte wêreld. Jy kan net rustig wees en jouself verloor in hierdie sirkel van klank.

Ons kan eintlik so baie leer van community en sharing. Mense ruil dromme uit, lag saam, speel saam, en meer belangrik luister saam. Soos ek en Cobus ook gisteraand gesê het, ‘n drumming circle het baie potensiaal om gebruik te word in ons gemeentes en gemeenskappe. By jeugkampe ens. As ons net bietjie uit ons comfort zones wil wegbreek en iets nuuts probeer, soos ek gedoen het gisteraand, sal ons besef daar is soveel meer in die wêreld wat ons kan gebruik ten goede.

Storiekaarte – en hoekom dit awesome is

Posted Maart 18, 2010 deur tiaan
Kategorieë: Uncategorized

Soos dit gaan in jeugbediening word kinders van tyd tot tyd na jou toe verwys deur ouens wat hoop dat jy deur een vinnige motiverende praatjie ‘n kind se optrede totaal gaan verander en beinvloed (lees: manipuleer) sodat die betrokke kind doen wat hulle graag verwag. Nou, dit werk nie heeltemal so nie, veral nie in relational jeugbediening nie. Ek het nie outomaties die reg om aan ‘n kind oor te dra dat hy of sy nou beter gecommit moet raak, kom nou, ruk jou reg en trek op jou sokkies, net omdat ek in jaartal nader aan die kind is nie. Dit werk nie so nie. Ek moet ook daardie kind se vertroue en respek verdien. Ek moet ook eers daardie kind se storie hoor. Want stories is hiper belangrik.

Ek sien toe vanoggend ‘n kind nadat sekere onderwysers gevoel het hy sal dalk eerder na my luister as na hulle. Nou, okay, maar ek weet mos ek kan nie dadelik met die deur in die huis val nie. Ek wil ook nie. Ek wil eers die kind se storie hoor.

Ek is al vir ‘n paar jaar deur Roelf Opperman van Kameeldrif blootgestel aan ervaringsleer en storiekaarte (weer eens baie dankie oom Roelf!), klein kaartjies met verskillende prente op wat persone dan kan gebruik om iets te vertel van whatever. Die kaart word die persoon se mondstuk. Omdat ek dit as ‘n tried and trusted metode ken, besluit ek toe om dit vandag ook in te span. Ek was nogals bang dat ek gaan sukkel om iets uit die ou te kry, ek ken hom nie goed nie. Groot was my verstomming oor wat toe gebeur.

Gewoonlik laat ek die persoon of persone so 3 kaarte kies, vandag was dit oor hoe jy die lewe sien, hoe jy die toekoms sien en hoe jy omgee sien. Die ou kies toe 4 kaarte en plaas hulle in ‘n spesifieke volgorde. Toe ek begin uitvra oor die kaart wat hy aanvanklik eerste gekies het, begin hy die volgorde verduidelik. Toe ek weer sien, is hy besig om ‘n comic strip te bou van sy lewe – ‘n uitgebreide metafoor in die derde persoon.

En hy bou. En hy bou. Soms is daar stiltes, dan wonder ek of ek dit moet verbreek, maar dan gaan hy aan en bou nog aan die storie. En ons gesels oor hierdie mannetjie in die storie. En dit word ‘n amazing ervaring. Naderhand begin die ou self die lyne deurtrek na sy eie lewe toe en ‘n klomp goed vertel – nie heeltemal dieselfde nie, maar naby genoeg dat ek die paralelle kon agterkom. En ek kom agter dat daar (soos ek vermoed het) HEELWAT meer agter ‘n skynbaar ongemotiveerde optrede sit as net luigeit.

Relational jeugbediening is nooit ‘n geforseerde jeugbediening nie – dis ‘n invitational jeugbediening. Net soos wat God ons uitnooi om deel te word van die ongeskrewe storie, ons uitnooi om uit te sien na ‘n toekomsverwagting, ons uit nooi om betrokke te raak by die mense rondom ons, net so moet ons tieners/jeug uitnooi om hulle vertroue met ons te deel (en dan mag jy dit onder GEEN omstandighede skend nie), om deel te word van ons lewens – sodat hulle ons later uitnooi om deel te word van hulle s’n, op hulle terme. Klink dit asof die mag uit jou hande gevat word? Ja, dit doen, en dis goed so.

Gr 10’s weet hoe om te kamp

Posted Maart 7, 2010 deur drien20
Kategorieë: jeug, kampe, NG Kerk, Oop gesprekke

Ons het gaan kamp die naweek saam met my Gr 10 sondagskool klassie. Uit ‘n klas van 15 het 9 opgedaag. Nou hierdie kamp ding is redelik nuut in die gemeente so daar het baie meer kids opgedaag as wat ek verwag het en die kamp het al my verwagtinge oorskry.

Ons het by die kampterrein opgedaag (nie ‘n fancy plek nie, sommer op iemand se plot langs die rivier), tent opgeslaan, en verder net gechill. Ons het mekaar eers bietjie beter leer ken, sommer net gou mekaar se name gehoor en dit het die gesprek oopgemaak. So klein, simpel oefeninkie wat mense laat welkom voel dat hulle sommer spontaan met jou begin gesels. En kyk ‘n 16-jarige kan lekker gesels.

Die seuns het in die rivier geswem, die girls het gele en chat of slaap of watokal. Soos ek se, ons het net lekker gechill met die kids. Die res van die mense het so net duskant half 2 daar aangekom. (met die kos, dankie tog!) Ons het ietsie geeet, gedrink en toe leer ons mekaar beter ken. Ons het sommer in groepies van 2 opgedeel en in 5 minute alles uitgevind wat ons kon van mekaar. Die weirdste goed het uitgekom, en tog het die kids ‘n bietjie meer van hulself ook bekend gemaak. Ietsie dieper as net die gewone ‘wat is jou skoen size’.

Ons het weer lekker geswem en gechat en so aan, en toe begin die sports. Daar was vlotte ook op die rivier. 1 groot en 1 kleiner een. Nou ja ons het gedink dat dit ‘n goeie oefening sal wees waar almal as ‘n groep kon deelneem. En ons is toe op die grote en af met die rivier, al 13 van ons. En dit het verbasend goed gegaan. Toe besluit ons nee, maar ons gaan nou oorklim op die kleiner 1. Nou ja needless to say dit het nie so goed gegaan nie. Ons bootjie het getiep. Gelukkig het die menslike instink ingeskop, want niemand het seer gekry nie. Almal het darem geweet om pad te gee onder die vlot. Nou ja, wat kan ek se, dit was verseker ‘n experience. Na die tyd het ons na gegaan wat gebeur het (met ‘n reviewing technique), hoe het almal gevoel, hoe het hulle dit ervaar.

Toe almal redelik rustig geraak het, het ons droe klere gaan aantrek en nog ‘n lekker aktiwiteit gedoen. En ek is nie eers sarkasties nie, dit was geniune vrek lekker gewees. Die idee is om kratte te bou tot so hoog as wat jy kan. (Sommer daai coke kratte wat in mekaar kan pas) Jy het natuurlik ‘n veiligheidstou om jou, wat geanker is in ‘n boom en wat ons ‘adventureman’ vasgehou het. Ek dink die rekord vir ons was 11 kratte. Nogal merkwaardig, want ek se vir julle dit kan nogal hoog raak so by die 8ste krat.

Ons het weer review wat gebeur het, hoe hulle gevoel het, en toe vra ek hoe sou hulle dit toepas op die lewe. Die coolste goed het uitgekom. Een het dit vergelyk met ‘n toets, partykeer moet jy maar ‘n raaiskoot vat en hoop die antwoord is reg, net soos jy ‘n raaiskoot vat en hoop dat 1 meer krat ‘n goeie idee was. ‘n Ander een het dit vergelyk met vriendskappe en so kan ons aangaan. Hierdie was ‘n goeie oefening, ja, maar wat vir my die awesomeste was, was dat dit ‘n hele in diepte gesprek oop gemaak het. Ons het van skool onnies tot rassisme gepraat.

Laat die aand het ons sommer lekker gesing om die vuur en lekker braaivleis geniet. Bietjie gepraat oor hulle ervaringe rondom kerk en ons gemeente. Toe die ouer garde nou besluit dis inkruip tyd het ek besluit om langer wakker te bly en saam die kids rondom die vuur stories te vertel en te hoor. Toe ek nou in die vroee oggendure wou nag se, toe wou hulle nie gehad het ek moet gaan slaap nie! Hoe awesome is dit?! Haha.

Hierdie kamp was ‘n belewenis saam met ‘n great groep 16-jariges. My verhouding met hulle is besig om te vorm en te bou. Ek kan regitg net dankbaar wees vir wat die Here deur my doen om met hierdie kids te kan werk. Ek dink hierdie kamp is een van daai wat mens gaan onthou, verseker!

Kan ons nog van ‘n gesin praat?

Posted Februarie 23, 2010 deur drien20
Kategorieë: Gesin, Godsdiens, jeug, kampe, Teologie

Ons het vandag bietjie jeugbediening gehad. Vandag se lesing het gegaan oor gesinsbediening in die gemeente en in die breër samelewing.

Ek wil regtig nie op tone trap as ek hierdie post skryf nie. Ek wil regtig net met julle deel wat ons in die klas bespreek het en hoe ek dit verstaan en so bietjie interpreteer.

Die prof wat die klas aanbied het inleidend gesê dat ons moet begin by die ouers as ons met die jeug wil werk, want hulle is immers die beste jeugwerkers. Dis nou ‘n baie mooi stelling om te maak ja, maar wat as daar nie ouers is om na op te kyk nie? Die realiteit is dat ons in ‘n samelewing leef waar 70% van skoolkinders óf uit ‘n enkelouergesin kom óf ‘n gesin wat deur ‘n egskeiding is. Ons lewe in ‘n land wat hard getref is met die HIV-virus. ‘n Gesin lyk waarskynlik soos die: kinders word opgepas/grootgemaak deur ouer broers of susters, want die ouers is dood aan vigs. En dit het ‘n impak, want 80% van die jeug aanvaar die lewensstyl van hul ouers of voogde. (Ek weet nie hoe akkuraat die statistiek is wat ek gebruik nie, ek gebruik maar wat in die klas gesê is.) Daar is die verdwyning van tradisionele rolle in die gesin. Ma verdien dalk meer as pa, of is dalk die enigste broodwinner in die huis.

En tog is hierdie ‘n teologiese prioriteit, of behoort te wees. In ons (of ten minste my) Reformatoriese agtergrond moet daar ‘n vennootskap wees tussen die huis, skool en gemeente. Ons kan nie alleen funksioneer nie. Ons het die hulp van die gesin nodig, ons moet saam met mekaar werk. Die doppers het so ruk terug ‘n baie sterk beweging gehad om Christelike skole te stig. Dis nou nie die beste oplossing gewees nie na my mening. Jy haal hierdie kinders uit die samelewing uit en uiteindelik bottel ons die liefde van Christus net in hierdie skole op en leef dit nie uit in die wêreld nie. Dis asof ons dit vir onsself wil hou.

‘n Erger idee was om hierdie jeug-kerke te begin. Ja die kerk erken nou hulle het ‘n fout gemaak deur nie genoeg aandag aan die gesin as geheel te skenk nie en nou wil hulle dit regmaak deur by die jeug te begin en miskien kan ons dan eendag met hulle kinders en gesinne dit reg doen. Wat de vy?? Nou haal ons die jeug uit hulle gesinne uit en plaas hulle op hulle eie. Ja dit is partykeer wat hulle wil hê, ek gaan nie stry nie. Maar ons het ‘n storie gehoor van ‘n girl wat op so tienerkamp gegaan het en hulle het hierdie tieners so gedraai teen hulle ouers, asof hulle ouers niks weet nie, dat haar pa na ‘n week na die predikant toe gegaan het en gevra het: “Wat het julle met my dogter gemaak? Sy gaan aan asof ons (haar ouers) glad nie eers Christene is nie!”

‘n Sendeling in Japan vertel van ‘n oukie (±17 jaar oud) wat tot bekering gekom het en hoe hy saam met die ou na sy huis toe gegaan het en met sy ouers gaan praat het. Hy’t vir hulle gesê dat hulle seun heel waarskynlik ‘n keuse gemaak het wat hulle dalk nie van gaan hou nie, maar hy gaan nie hulle seun van hulle af wegvat nie. Hy gaan hom nie isoleer van sy gesin af nie, want hy weet hoe hulle gesinstruktuur werk en dat familie uiters balngrik is vir hulle en hy respekteer dit. Hy wil graag saam met hulle die pad stap. En toe nooi hy hulle ook uit om te kom kyk na wat hulle doen ens. Net deur te acknowledge dat die gesin ‘n belangrike rol speel vir hierdie mense, het hy die deur oopgemaak. Later het die gesin gaan kyk na die gemeente en het ook tot bekering gekom.

Ek dink dis belangrik om te weet dat gesinne nie noodwendig gaan oor getalle of strukture nie, maar oor die verhoudings wat daar gebou word. En as dit afbrekend is, dan moet ons as mede-gelowiges en as gemeente hierdie jongmense help om te groei, sodat hy/sy eendag ‘n gesin kan hê met liefdevolle verhoudings. En ja, dit is makliker gesê as gedaan. Ons gaan maar net moet aanhou probeer en aanhou om verhoudings te bou EN te hou en die liefde van Jesus uit te leef elke dag.