Archive for the ‘Godsdiens’ category

Kan ons nog van ‘n gesin praat?

Februarie 23, 2010

Ons het vandag bietjie jeugbediening gehad. Vandag se lesing het gegaan oor gesinsbediening in die gemeente en in die breër samelewing.

Ek wil regtig nie op tone trap as ek hierdie post skryf nie. Ek wil regtig net met julle deel wat ons in die klas bespreek het en hoe ek dit verstaan en so bietjie interpreteer.

Die prof wat die klas aanbied het inleidend gesê dat ons moet begin by die ouers as ons met die jeug wil werk, want hulle is immers die beste jeugwerkers. Dis nou ‘n baie mooi stelling om te maak ja, maar wat as daar nie ouers is om na op te kyk nie? Die realiteit is dat ons in ‘n samelewing leef waar 70% van skoolkinders óf uit ‘n enkelouergesin kom óf ‘n gesin wat deur ‘n egskeiding is. Ons lewe in ‘n land wat hard getref is met die HIV-virus. ‘n Gesin lyk waarskynlik soos die: kinders word opgepas/grootgemaak deur ouer broers of susters, want die ouers is dood aan vigs. En dit het ‘n impak, want 80% van die jeug aanvaar die lewensstyl van hul ouers of voogde. (Ek weet nie hoe akkuraat die statistiek is wat ek gebruik nie, ek gebruik maar wat in die klas gesê is.) Daar is die verdwyning van tradisionele rolle in die gesin. Ma verdien dalk meer as pa, of is dalk die enigste broodwinner in die huis.

En tog is hierdie ‘n teologiese prioriteit, of behoort te wees. In ons (of ten minste my) Reformatoriese agtergrond moet daar ‘n vennootskap wees tussen die huis, skool en gemeente. Ons kan nie alleen funksioneer nie. Ons het die hulp van die gesin nodig, ons moet saam met mekaar werk. Die doppers het so ruk terug ‘n baie sterk beweging gehad om Christelike skole te stig. Dis nou nie die beste oplossing gewees nie na my mening. Jy haal hierdie kinders uit die samelewing uit en uiteindelik bottel ons die liefde van Christus net in hierdie skole op en leef dit nie uit in die wêreld nie. Dis asof ons dit vir onsself wil hou.

‘n Erger idee was om hierdie jeug-kerke te begin. Ja die kerk erken nou hulle het ‘n fout gemaak deur nie genoeg aandag aan die gesin as geheel te skenk nie en nou wil hulle dit regmaak deur by die jeug te begin en miskien kan ons dan eendag met hulle kinders en gesinne dit reg doen. Wat de vy?? Nou haal ons die jeug uit hulle gesinne uit en plaas hulle op hulle eie. Ja dit is partykeer wat hulle wil hê, ek gaan nie stry nie. Maar ons het ‘n storie gehoor van ‘n girl wat op so tienerkamp gegaan het en hulle het hierdie tieners so gedraai teen hulle ouers, asof hulle ouers niks weet nie, dat haar pa na ‘n week na die predikant toe gegaan het en gevra het: “Wat het julle met my dogter gemaak? Sy gaan aan asof ons (haar ouers) glad nie eers Christene is nie!”

‘n Sendeling in Japan vertel van ‘n oukie (±17 jaar oud) wat tot bekering gekom het en hoe hy saam met die ou na sy huis toe gegaan het en met sy ouers gaan praat het. Hy’t vir hulle gesê dat hulle seun heel waarskynlik ‘n keuse gemaak het wat hulle dalk nie van gaan hou nie, maar hy gaan nie hulle seun van hulle af wegvat nie. Hy gaan hom nie isoleer van sy gesin af nie, want hy weet hoe hulle gesinstruktuur werk en dat familie uiters balngrik is vir hulle en hy respekteer dit. Hy wil graag saam met hulle die pad stap. En toe nooi hy hulle ook uit om te kom kyk na wat hulle doen ens. Net deur te acknowledge dat die gesin ‘n belangrike rol speel vir hierdie mense, het hy die deur oopgemaak. Later het die gesin gaan kyk na die gemeente en het ook tot bekering gekom.

Ek dink dis belangrik om te weet dat gesinne nie noodwendig gaan oor getalle of strukture nie, maar oor die verhoudings wat daar gebou word. En as dit afbrekend is, dan moet ons as mede-gelowiges en as gemeente hierdie jongmense help om te groei, sodat hy/sy eendag ‘n gesin kan hê met liefdevolle verhoudings. En ja, dit is makliker gesê as gedaan. Ons gaan maar net moet aanhou probeer en aanhou om verhoudings te bou EN te hou en die liefde van Jesus uit te leef elke dag.

Too good to be true

Desember 10, 2009

Ek kyk die afgelope klompie dae Buffy the Vampire Slayer. Classic series en ek love dit. Maar toe kom ek op die een episode af waar daar nou ‘n ou is wat straatmense na ‘n shelter toe nooi. As ek mooi onthou was die plek se naam Family Home. Natuurlik was die ou ‘n demon en was die plek net ‘n cover story sodat hy die mense kan gebruik om vir honderde jare sy slawe te wees, want niemand sal hulle mos mis nie.
Ek sit so en dink daaraan na die tyd. Hoe waar is dit nie? So baie mense is geneig om skepties te wees oor sulke shelters en charities, bloot om die feit dat partykeer is dit te goed om waar te wees. Dis of ‘n con artist of korrupte besigheidsmanne wat in beheer is daarvan. Mense raak moeg daarvoor en dit lei net na nog ‘n bose kringloop wat al hoe meer negatiwiteit kweek.
Is dit ook nie so waar van ons geloof nie? Ons as die liggaam van Christus (aka die kerk) is veronderstel om Jesus se vrede en liefde uit te leef. En tog deur die eeue doen ons alles behalwe dit. (Ja ek veralgemeen nou so bietjie, maar dis tog die goed wat die mensdom onthou) Vat bv. die Kruistogte, Hitler, al die wrede en manupulerende goed wat die Pope en die Rooms-Katolieke kerk en ja ook die Protestantse kerk als gedoen het “in die naam van God’. Ons kan aan en aan gaan met die lys van screw-ups wat ons as kerk al gemaak het. En ja dis baie maklik om te se, maar dit was ons voorvaders wat opgemors het, dit het niks met ons uit te waai nie.
Ons moet ophou om almal anders die skuld te gee. (Dit is nie maklik nie, ek is self skuldig daaraan) En ek moet nog gaan sit en brainstorm met al my maatjies en probeer uitfigure hoe ons hierdie ‘kom-ons-blameer-ander’ mentaliteit uit die weg te ruim. Ons sal dit seker nooit volkome regkry nie, maar ons kan nogsteeds probeer. Soos hulle se: probeer is die beste geweer.

Kerk liedjies

September 22, 2009

Ek het onlangs ‘n blog gelees oor praise & worship wat my nogal baie diep geraak het. (Lees meer hier) Ek het bietjie gaan dink en agter gekom dat wat hy daar gese het raakvat waarmee baie van ons worstel. Dit voel vir my asof ons goed sing wat vir ons uitgele is en ons vra net nie meer vrae daaroor nie. Dit klink altyd baie nice, maar is daar regtig ‘n dieper betekenis, ‘n meer relevante betekenis in my lewe vandag?

Kyk ek kan lekker lank oor praise & worship aangaan. Ek was self deel van daardie opset vir baie jare. Ek is nogsteeds in my gemeente se band en ek love dit nogsteeds om regtig goeie musiek te maak saam met kwaliteit musikante. Partykeer wens ek net ek kon goeie liedjies skryf wat kon pas by wat ek voel oor God op hierdie stadium van my lewe. Maar ek sal dit los vir die mense wat die talent daarvoor gekry het…

‘n Baie bekende prof wat by die fakulteit was, was leraar by die gemeente waar ek nou betrokke is. Hy het ‘n liedjie geskryf wat die gemeente nou moet aanleer, sodat hulle dit kan sing wanneer hy nou weer daar preek. Nou, dis ‘n baie nice liedjie en alles. Goeie melodie en for the most part heel oraait lirieke. Maar in 1 van die verse se hy ‘ons glo in die hel…’ Nie so goeie idee wanneer dit ‘n kwessie is wat lekker gedebatteer word nie.

Dit het my weer laat dink aan ‘n kleingroep gesprek wat ek gehad het verlede week rondom die hemel en hoekom ons daarin glo en is daar ‘n hemel ens. Hoe baie Christene maak hierdie twee aspekte die middelpunt van hulle geloof? Dis skrikwekkend.

Ek gaan nie my persoonlike menings hierop uitbrei nie. Vir nou is ek heel gemaklik daarmee om te se, ek weet nie. Maar wat ek wel weet, is dat daar soveel meer is tot ons geloof. Nie net waarnatoe jy oppad is nie. Ek wil in die ‘nou’ leef waar ek ‘n verskil kan maak in jan-alleman se lewe met God wat my lei in hierdie stryd. Om verhoudings op te bou en Jesus se liefde uit te leef.

ai, die fundies tog…

April 9, 2009

My naïewe “glo soos ‘n kind”-geloof is sekerlik ten sterkste gebreek die dag toe die ma van ‘n goeie vriendin vir my gesê het ek moet my roeping gaan heroorweeg – ek het dit beleef, of dalk het sy dit gesê, dat sy dink ek is nie meer ‘n Christen nie – dalk was sy reg, maar meer daaroor netnou.

Tydens my universiteitsjare het ek en Ferdie Mulder nogals goeie vriende geword. Die vriendskap het egter baie sleg geëindig. Ek het nog nooit regtig daaroor geskryf nie, en gaan ook nie nou nie. Ek haal maar net die woorde aan uit die enigste blogpost waar ek al daaroor gepraat het:

Some of you might remember the Ferdie Mulder case. On that note, for those of you reading Afrikaans, maybe take a look at his view and that of the church here, here and here. But actually this is just a very hurtful part of my own history, if you skip all those links it might be best. UPDATE: All these links seem to have died since I wrote this a year or so ago. If anyone know where they have gone, I’ll appreciate some tips.

Net toe ek gedog het hierdie stukkie van my geskiedenis is agter die rug, toe ontdek ‘n paar mense dat daar geblog word by teo@up deur ‘n klompie teologiese studente, en dit word hulle favourite plek om te comment. Ek is nie seker waarmee hulle besig was nie, maar ek vermoed dat die teorie basies was dat as jy die leerling verkeerd kan bewys, dan is die leermeester outomaties skuldig, of so iets. Hulle het elkgeval duidelik hulle mes hoofsaaklik vir dosente by UP ingehad.

Comments soos hierdie, waar van ons tot bekering opgeroep is, moes die eerste tekens gewees het dat hierdie gesprek nêrens heen oppad is nie.

Wat dit ook duidelik moet maak is al die massas uitnodigings na ‘n persoonlike ontmoeting, en ‘n gesels oor hierdie teologiese sake rondom koffie. Ek nommer sommer die links: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10. Die uitnodiging het lank gestaan, maar skynbaar verkies die aanhangers van watookal mens hierdie beweging moet noem om liewers beskuldigings rond te gooi op die internet. Ek moes tot die konklusie kom dat hulle nie regtig belangstel in gesprek, soos wat Matteus 18 ons tog na roep nie, maar suiwer in publieke afkraking van die ander. Die van julle wat bekend is met die sosiaal-wetenskaplike navorsing, of selfs net die kruisigingsverhalwe fyn gaan lees, sal dit erken as ‘n soortgelyke trick as waarmee die Joodse leiers besig was rondom die kruisiging. As jy nie bekend is met hierdie navorsing nie, maar graag meer sal wil weet, staan die koffie-uitnodiging vir jou ook. Persoonlike ontmoetings is nogals belangrik vir die emerging crowd, vra maar vir Guillaume

‘n Paar ander dinge het my ook by die punt gebring waar ek hierdie post skryf. Een daarvan is onlangse comments wat my net laat besef het dat hierdie kommentatore ‘n totale gebrek aan insig rondom die kerkgeskiedenis openbaar. In ‘n comment wat ek gedelete het omdat dit my voorwaardes nie in ag geneem het nie (ek sal dit email aan enigiemand wat sou belangstel om te sien), is artikel 2 van die NGB as panenteïsties beskryf… nou, as my onderskrywing van die NGB problematies begin raak, dan weet ek nie meer waarheen vorentoe met die gesprek nie. As die feit dat ek met Paulus saamstem oor die algemene openbaring in die natuur (Romeine 1:20) van my ‘n “nie-Bybelse Christen” maak, dan maak dinge vir my nie meer sin nie.

Seth Godin skryf nogals mooi daaroor dat partymaal moet jy maar net ophou terugkyk en werk vir dit waarin jy glo. Ek het Tribes net gisteraand klaargelees. As ek nou woorde uit Lukas 9 heeltemal uit verband kan ruk (of dalk nie), dan is dit iets soos:

“Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Fundamentalisme maak vir my sin. Face it, ons leef in tye waar die kerk verander. Tyd era van Christendom is verby (bl 11-12 van my mini dissertasie van laas jaar, of massas en massas bronne in boeke en op die internet wat jy hieroor kan gaan raadpleeg), en in tye van verandering dan het jy altyd teruggrypings. Fundamentalisme is ‘n voorbeeld daarvan, net jammer hulle gryp terug na iets wat jy nie op enige plek in die geskiedenis van die kerk gaan kry nie (gaan lees gerus Luther, Calvyn, Aquinas, of enige kerkvader).  Ek gaan egter nie langer terugkyk na die pad van die fundamentalisme nie, maar vorentoe op die pad wat ek glo God my gelei het.

Nou, die punt van hierdie ellelange post: Hier by die anderkant het ek gekies vir ‘n anderste benadering. In die woorde van een van hierdie kommentatore, Amanda:

In die ontluikende kerk gaan dit nie oor eng doktrines nie, maar ‘n eerder oor die vestiging van God se Koninkryk hier op aarde deur te lewe in die weg van Jesus.

Ek sou kon sê dat dit vir my oor ‘n paar ander dinge ook gaan, maar daai is nogals ‘n nice opsomming.

Dus, groet ek julle. Ek sit my reis voort om te soek na God hier van die anderkant af. Ek kan julle waarborg dat Tom Lessing sal kommentaar lewer op hierdie post, maar siende dat ek nie weer daarheen gaan link nie, sommer nou die link. Dit is dan ook sommer die blog waarheen ek jou verwys as jy die heksejag op bykans enige predikant van die NG Kerk wil volg. Ek neem vrymoedigheid om vrylik comments te delete wat op hierdie blog verskyn wat enigsins aan hierdie heksejag deelneem, en nie dialoog (soos David Bosch dit mooi verduidelik het) bevorder nie. So weet dit, Kobus, Thomas, Amanda, DTW en wie ook nog lus het vir comment hier. Ek beveel aan dat jy die IMonk se comment policy gaan lees, want ek like dit, en maak dit sommer nou myne ook. Dit geld ook vir my ander blogs.

Daarmee groet ek dan.

Verhoudings, pendulums en profete

Augustus 27, 2008

Goed, dit is dalk ‘n bietjie verwaand om na jouself as ‘n profeet te verwys, maar ek wil ‘n profetiese uitspraak waag.  In die sin van die woord soos deur die algemene publiek verstaan:  dat ek na die toekoms verwys.  Voordat ek daar uitkom, moet ek egter eers ‘n bietjie na die hede kyk, en dan ‘n bietjie na die verlede.

Die hede:  In ons kultuur vandag, so merk ek op, word daar verskriklik baie klem geplaas op VERHOUDINGS.  Dit het een van daardie holruggeryde woorde geword.  ‘n Klinkende simbaal.  Self is ek ook skuldig hieraan.  In my eksegese is ek ook skuldig hieraan.  In my verstaan van Christenskap is ek skuldig hieraan.  In my verstaan van die triniteit is ek skuldig hieraan.  Dit het tot ‘n mate die sleutel geword waarmee ons nie net ons kultuur wil verstaan nie, maar ons godsdiens – en God.

Die verlede: Uit die verlede leer ons dat die geskiedenis dikwels in ‘n sirkel loop.  Dis ‘n pendulum wat swaai.  Elke keer wanneer iets oorbeklemtoon is, is daar ‘n ander aspek wat later teen dit gestel word.  Die twee word dan later met mekaar versoen.  ‘n Tese, antitese en sintese, as ons met Hegel se verstaan daarvan wil werk.  (Natuurlik beteken dit dat dit vorentoe ook beweeg – ‘n spiraal dan, eerder as ‘n sirkel.)  Die punt bly staan, die pendulum swaai…

Die toekoms:  Ek wil waag om dit te stel dat daar êrens in die toekoms nie meer soveel klem op verhoudings geplaas gaan word nie.  Alhoewel dit nou die beste model is wat ons het om heelwat goed mee te verduidelik, sal daar ‘n model hierop volg wat dit tot die agtergrond sal skuif, selfs al verdwyn verhoudings nooit uit die prentjie nie.

Dis natuurlik net my beskeie mening.

Penny wise and pound foolish

Augustus 25, 2008

Ek moes eens op ‘n tyd vir my tante ‘n 2l melk by Checkers gaan optel wat sy per ongeluk daar vergeet het toe sy inkopies gedoen het.  Ons het in dieselfde straat gewoon, ‘n mielieland aan die een kant van die straat, en ‘n winkel aan die ander.  Melk was goedkoop in daardie dae, petrol ook.  By die winkel het melk seker so R14 gekos.  By die Checkers – omtrent R12.  Die Checkers is so 5km van ons huis af, en die Groen Monster (‘n 1979 Nissan Laurel) waarmee ek rondgery het, het so 6km per liter gekry.  (Ongeag of daar nou ‘n karavaan, ‘n waentjie, of ‘n karavaan met ‘n waentjie ageraan gehaak was.  Ten minste was die ou kar konsekwent.)  Dus:  dit sou my net minder as R8 kos, asook so 15-20 minute, om die melk te gaan oplaai.  My tante het vooraf die bestuurder van Checkers gebel om te sorg dat die melk eenkant gehou word – seker so 50c vir die oproep gewees, dalk R1.  Doen maar self die wiskunde.

Dit is hoe baie mense ook oor sending dink.  ‘n Vliegkaartjie Afrika toe vanaf die VSA kos seker so R12000 op ‘n goeie dag.  Verblyf daar:  glad nie ‘n te slegte prys nie.  Kos:  ook baie goedkoop.

Ek wonder hoeveel melk kan mens met R12000 koop?  Ek wonder.  Doen maar self die wiskunde.

Ek wil darem ook net byvoeg – ek weet dat mens party goed nie NET in terme van geld kan meet nie.

generasiegapings, emerging, en ander dinge wat ek by hoërskool vriende leer

Augustus 9, 2008

Ek het baie mense wat my mentor. Oor die laaste 2 of 3 jaar het ek besef dat van hulle jonger as ek is. Van hulle is nog op skool. Dit sluit o.a my jongste broer in, en ‘n klompie vriende. Nadine is een van hulle. Daai blog is nie tans aktief nie, maar ek gooi vir julle die link in, sign elkgeval op vir haar RSS feed, en lees wanneer sy wel skryf.

Elkgeval, ons het ‘n goeie gesprek oor kerk en dinge gehad so paar weke terug in Kung-Fu kitchen (as jy nog nie besoek het nie, net agter daai bar in Hatfield wat se naam heeltyd verander, ek dink dit is nou Springbok bar of iets, net oorkant Asterhof), en toe vanaand lank gechat. Wonder van gmail is dat hy die gesprek save, so nou kan ek teruggaan en weer lees wat ons geskryf het.

Ek love my gemeente. NG Kameeldrif, daar Noord van die berg. Is besig om ons website oor te design, gaan moontlik ‘n blog ook hê, dan is dit nog ‘n blog wat jy maar kan lees. Nuwe design word 24 Augustus gelaunch, so kom kyk gerus. Nou ja, ek love die plek. Ek werk saam met twee wonderlike kolegas (OK, dit lyk soos gatkruip, maar ek bedoel dit regtig, vra die mense wat weet wat ek skinder agteraf, ek sê dit daar ook), dis ‘n jong gemeente (gemiddelde ouderdom 34), mens kan challenging goed preek en die mense verteer dit. Maar tog ervaar ek dit nie regtig as ‘n geestelike tuiste nie. OK, hier is die confession tyd nou ek weet. En hoe kan die dominee dit skryf? Dalk is dit omdat ek daar werk, dalk ervaar alle dominees dinge maar so. Maar ek beleef my eie spiritualiteit baie keer maar buite die kerk.

Iewers het ek net so nagging gevoel aan my dat daar iets meer moet wees. Dat die kerk meer moet wees as wat dit huidiglik is. Dat Jesus nie bedoel het dit wat ek in die kerk beleef nie. Ja, noem dit emerging as jy wil, noem dit deel van hierdie postmoderne generasie. Realiteit is dat ek nog nie by enige iemand kon hoor hoe ek my gemeente moet neem van waar ons nou is, na dit wat ek droom nie. Dalk omdat ek nog aan my eie droom vorm.

Maar goed, saam met Nadine het ek op die volgende gedagtes afgekom. Niks rewolusionêr nie, daar is baie ander wat hierdie dinge sê. Ek ervaar ‘n definitiewe soeke na spiritualiteit, spiritualiteit het ek in die gesprek gedefinieër as “‘n gevoel van dat daar ‘n “meer” is aan die lewe, en dat ek kan oplink met daardie “meer”, wat ons God noem“. Dalk is gevoel nie die regte woord nie, maar jy kry die prentjie. Ek dink ook daar is onder baie mense ‘n soeke na teologie: “die verwoording van hierdie “meer”, woorde oor God“. Baie jong mense soek werklik na nuwe maniere om oor God te praat, en in baie gevalle net na maniere om oor God te praat, want teologie is vir te lank die taak van die dominee gemaak, so hulle het niks nie.

Maar terselftertyd is die kerk in ‘n krisis. Ons wil die nie altyd erken nie, en ons laat dit altyd sagter klink, maar dit is waar. Mense bat die kerk vir ‘n 6 time and again. Ek het op ‘n plattelandse dorpie grootgeword. Ons was seker so 60 Afrikaanse leerlinge per graad in die enigste skool. Ons was onder 30 in die belydenisklas. 30 Jaar terug was blykbaar 99% Afrikaners lidmate van Afrikaanse kerke. Vandag op die platteland kom minder as die helfte na die geleentheid waar ons nog van die beste hits kry, belydenisklas!

OK, maar die kerk gaan nie oor getalle nie. So ek dink die probleem van die kerk lê op ander terreine. Dat ons nie meer ‘n alternatief kan bied nie. Ons kan nie alternatiewe bied op individualisme en verbruikersmentaliteit nie. Selde is ons werklik besig om die vraagstukke van die land aan te spreek, VIGS armoede… en om alles te kroon wonder ek baie keer hoe suksesvol ons is om die sin-vraag te beantwoord. En in alle eerlikheid, as die religieuse instansies dit nie doen nie, dan is daar ‘n ernstige probleem!

Goed, maar ek dwaal nou af. Die kerk beleef ‘n krisis, Alan Roxburg noem dit die belewenis van liminaliteit. En hoe reageer kerke? Wel, party versterk die dualisme. Maak seker mense weet dat hulle ‘n godsdienstige lewe het, en dat die kerk daarmee sal help en geen ander plek kan nie, en ignoreer alle ander sfere. Nog meer ekstreem kies party vir fundamentalisme, wat vir jou sê dat net hierdie kerk (ja, ek weet hulle sê die Bybel, maar daarmee bedoel hulle eintlik net my interpretasie van die Bybel, en dus per implikasie net my kerk) die antwoorde het, en vertel jou dis sonde om op ander plekke in die wêreld te gaan luister. Dus, as jy net ons ken, wel, hoekom sal jy dan skuif.

Ek lees op plekke dat die kerk maar nog heeltyd geskuif het tussen ‘n institusie en ‘n beweging. En dit is fine. David Bosch skryf in Transforming Mission dat vroeë kerk, wat ‘n beweging was, moes institusionaliseer om te oorleef. Jy kan nie permanent ‘n beweging bly nie! Maar partymaal moet die kerk weer beweging word om te oorleef, mens kan nie heeltyd institusie bly nie. En ek dink dit is was nou aan die gebeur is. Onder die oppervlakte is daar ‘n stuk energie wat dreig om uit te kom, wat al ontplof het op plekke. Ek sien dit hier en daar by jongmense, meer en meer. Hulle skreeu uit dat die kerk ‘n beweging moet word. Maar bewegings is ‘n helse bedreiging vir die institusie, en daarom skop die institusie daarteen. Ja, ek weet daar is mooi tekens binne die NG Kerk van plekke waar ‘n nuwe beweging embrace wil word, maar kan ‘n institusie ooit in sy geheel ‘n beweging embrace? Kan ‘n institusie sy konstitusies laat vaar? Sy hierargieë laat vaar? Ja dit klink onmoontlik, maar die borrelende energie vra juis dit!

Hierdie borrelende energie moet natuurlik weet dat ook hierdie beweging hierdie gaan institutionaliseer, en dalk vinniger as wat mens dink. Dit is bound to happen, dit moet partymaal gebeur, want bewegings kan ook nie vir altyd survive nie. Maar eers moet die energie uitkom, en vloei.

Dit dink ek is wat in ‘n groot mate besig is om te gebeur. Ja, daarmee saam kom ‘n herdink van ons teologie en wat nog meer. Daarmee saam kom ‘n herontdekking van baie van die dinge wat in die beweging-tye van die kerk bestaan het. Maar soek ons nie juis dit nie! Is die nie waar die mooi gevind word nie? In die Reformasie, die Wesley-revivals, die vroeë kerk, die Jesus-beweging (nee, nie die 1970’s s’n nie, maar die een voor 0070 AD).

Ek moes al ‘n paar keer opgewonde hoërskool kinders hoor wat vir my vertel dat ‘n sekere idee wat hulle het om hulle geloof uit te dra of uit te leef nie aan die kerk gekoppel moet word nie. Ek sê dit gewoonlik nie vir hulle nie, maar ek dink tog dit moet, ek dink net sadly is hulle reg, en gaan dit nie werk as hulle idees gekoppel word aan die kerk wat hulle ken nie. Maar daar is baie ander maniere waarop die kerk gewerk het oor die eeue, en by van hulle kan ons gaan leer.

En as jy nie hierdie jongmense verstaan nie? Of as jy dink ons sê hierdie dinge net omdat ons die Gereformeerde leer nog nie goed genoeg verstaan nie, en omdat ons nog net iewers ‘n positiewe ervaring van die institusionele praktyk moet vind… onthou dit, ons is nie kwaad vir die kerk nie, die geskiedenis herhaal homself net telkemale, en dit het tyd geword vir die institusie om weer geboorte aan bewegings te gee…