Archive for the ‘Rekenaars’ category

Flashcards

Maart 27, 2008

Gedoriewaar!  My lewe sou baie makliker gewees het as ek geweet het wat ek nou weet toe ek dit moes geweet het en nog nie geweet het nie.  Een van die groot wetensgapings in my lewe is die elektroniese moontlikhede vir flashcards wat daar beskikbaar is!  Ons almal het tog maar flashcards gebruik om daai netelige Griekse en Hebreeuse woorde in ons koppe te druk.  Dit was net nie so fancy soos wat jy dit vandag kan doen nie!  (Myne het ek in banksakkies gehou – en dié het op hul beurt weer netjies in ‘n broodpan gepas wat ek spesiaal daarvoor gekoop het.  Eintlik was die aankoop daarvan meerdoelig, maar ek het nog nooit brood gebak met die ding nie, wag nog vir die regte oomblik.) 

Blykbaar is daar ‘n baie goeie program wat mens kan koop wat mens dan help om die goed in orde te hou – Phase 6.  Dit herhaal die woorde en hou tred met wat jy al geleer het, en wat nie.  Jy kan dit koop, as jy wil – vir R300.  Maar daar is ook ‘n paar goeie opensource alternatiewe beskikbaar, waarvan die beste een (dis die eenvoudigste, maar die Griekse font werk baie maklik daarmee saam) Pauker is.  Ek is sover nogal beïndruk met dit – sal maar sien hoe dit op die lange duur uitwerk.  Punt van die saak is seker maar nog altyd dat die verantwoordelikheid om dit deur te gaan by jou lê.  

Terwyl ons nou ook so op baie bruikbare en verniet programme is:  een van die programme wat ek die meeste gebruik is sekerlik WordWeb.  Dis ‘n elektroniese Engelse verklarende woordeboek – gee ook vir mense sinonieme, antonieme, woorde wat soortgelyk is.  Jy druk net ctrl-alt-w en siedaar!  Jy het ‘n oplossing vir plagiaat.  Sou jy bereid wees om BAIE meer geld te betaal kan jy natuurlik altyd Babylon 7 kry, dis soos WordWeb maar het ‘n paar ekstra funksies by (soos meer erkende woordeboeke.  Dink Encarta vs. Wikipedia).