Archive for the ‘TUKS’ category

Nog goed wat hulle ons nie geleer het nie

April 24, 2009

Een ding waaroor ek regtig spyt is, is dat ek nie hard genoeg gewerk het toe ek besig was met die ‘normale’ teologie-program nie (BTh & MDiv). ‘n Hele aantal mense sal seker met my hieroor verskil. Nogtans sal hulle moet herken dat die enigste module wat ons oor die geografie van Israel gehad het, by hulle ook verbygevlieg het.

Ek sit nou dikwels met die probleem dat ek nie feite kan integreer in my historiese raamwerk nie – seker minder as party ander mense, maar dit voel tog vir my asof daar ‘n leemte is hier. ‘n voorbeeld, wat ek op ‘n paar ander oud-Tukkie (uitblinker) teologie studente uitgetoets het, is die van Sepphoris. Hier is nog ‘n plek waar mens daaroor kan lees, en hier – die laaste een is geskryf deur die direkteur van opgrawings by die plek. Sepphoris was ‘n groot stad wat naby aan Nasaret was – stapafstand, so 6km. Daar was groot gebouery in die tyd dat Jesus ‘n jong seun was in Nasaret. Dis belangrik! Niemand het my daarvan vertel tot na ek klaar geswot het nie! (Maar prof van Eck, glo ek, vertel nou die studente daarvan.) Nog ‘n openbaring – en noem my maar ‘n swaap – is dat Galilea deel was van die Noordryk. Ek dag die Noordryk het in 722vC geval, daar was niks oor nie, net die Suidryk en die Samaritane! (Hierdie een blameer ek uit en uit net op myself, nie die fakulteit nie.)

Hoekom het ons nie ‘n beter historiese raamwerk na universiteit nie?
In dieselfde asem moet ek ook noem dat ons deeglik voorberei is ten opsigte van sosiaal-wetenskaplike studies. Een van die predikante waar ek my gemeentejaar gedoen het, het genoem dat dit hom ure vat om die agtergrond studie te doen – vir my kom dit natuurlik, en die rede hiervoor kan ek eenvoudig net voor die voete van die teologie fakulteit en die Antieke Tale departement lê.

Hoe prop mens in elk geval alles in 6 jaar in?

ai, die fundies tog…

April 9, 2009

My naïewe “glo soos ‘n kind”-geloof is sekerlik ten sterkste gebreek die dag toe die ma van ‘n goeie vriendin vir my gesê het ek moet my roeping gaan heroorweeg – ek het dit beleef, of dalk het sy dit gesê, dat sy dink ek is nie meer ‘n Christen nie – dalk was sy reg, maar meer daaroor netnou.

Tydens my universiteitsjare het ek en Ferdie Mulder nogals goeie vriende geword. Die vriendskap het egter baie sleg geëindig. Ek het nog nooit regtig daaroor geskryf nie, en gaan ook nie nou nie. Ek haal maar net die woorde aan uit die enigste blogpost waar ek al daaroor gepraat het:

Some of you might remember the Ferdie Mulder case. On that note, for those of you reading Afrikaans, maybe take a look at his view and that of the church here, here and here. But actually this is just a very hurtful part of my own history, if you skip all those links it might be best. UPDATE: All these links seem to have died since I wrote this a year or so ago. If anyone know where they have gone, I’ll appreciate some tips.

Net toe ek gedog het hierdie stukkie van my geskiedenis is agter die rug, toe ontdek ‘n paar mense dat daar geblog word by teo@up deur ‘n klompie teologiese studente, en dit word hulle favourite plek om te comment. Ek is nie seker waarmee hulle besig was nie, maar ek vermoed dat die teorie basies was dat as jy die leerling verkeerd kan bewys, dan is die leermeester outomaties skuldig, of so iets. Hulle het elkgeval duidelik hulle mes hoofsaaklik vir dosente by UP ingehad.

Comments soos hierdie, waar van ons tot bekering opgeroep is, moes die eerste tekens gewees het dat hierdie gesprek nêrens heen oppad is nie.

Wat dit ook duidelik moet maak is al die massas uitnodigings na ‘n persoonlike ontmoeting, en ‘n gesels oor hierdie teologiese sake rondom koffie. Ek nommer sommer die links: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10. Die uitnodiging het lank gestaan, maar skynbaar verkies die aanhangers van watookal mens hierdie beweging moet noem om liewers beskuldigings rond te gooi op die internet. Ek moes tot die konklusie kom dat hulle nie regtig belangstel in gesprek, soos wat Matteus 18 ons tog na roep nie, maar suiwer in publieke afkraking van die ander. Die van julle wat bekend is met die sosiaal-wetenskaplike navorsing, of selfs net die kruisigingsverhalwe fyn gaan lees, sal dit erken as ‘n soortgelyke trick as waarmee die Joodse leiers besig was rondom die kruisiging. As jy nie bekend is met hierdie navorsing nie, maar graag meer sal wil weet, staan die koffie-uitnodiging vir jou ook. Persoonlike ontmoetings is nogals belangrik vir die emerging crowd, vra maar vir Guillaume

‘n Paar ander dinge het my ook by die punt gebring waar ek hierdie post skryf. Een daarvan is onlangse comments wat my net laat besef het dat hierdie kommentatore ‘n totale gebrek aan insig rondom die kerkgeskiedenis openbaar. In ‘n comment wat ek gedelete het omdat dit my voorwaardes nie in ag geneem het nie (ek sal dit email aan enigiemand wat sou belangstel om te sien), is artikel 2 van die NGB as panenteïsties beskryf… nou, as my onderskrywing van die NGB problematies begin raak, dan weet ek nie meer waarheen vorentoe met die gesprek nie. As die feit dat ek met Paulus saamstem oor die algemene openbaring in die natuur (Romeine 1:20) van my ‘n “nie-Bybelse Christen” maak, dan maak dinge vir my nie meer sin nie.

Seth Godin skryf nogals mooi daaroor dat partymaal moet jy maar net ophou terugkyk en werk vir dit waarin jy glo. Ek het Tribes net gisteraand klaargelees. As ek nou woorde uit Lukas 9 heeltemal uit verband kan ruk (of dalk nie), dan is dit iets soos:

“Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Fundamentalisme maak vir my sin. Face it, ons leef in tye waar die kerk verander. Tyd era van Christendom is verby (bl 11-12 van my mini dissertasie van laas jaar, of massas en massas bronne in boeke en op die internet wat jy hieroor kan gaan raadpleeg), en in tye van verandering dan het jy altyd teruggrypings. Fundamentalisme is ‘n voorbeeld daarvan, net jammer hulle gryp terug na iets wat jy nie op enige plek in die geskiedenis van die kerk gaan kry nie (gaan lees gerus Luther, Calvyn, Aquinas, of enige kerkvader).  Ek gaan egter nie langer terugkyk na die pad van die fundamentalisme nie, maar vorentoe op die pad wat ek glo God my gelei het.

Nou, die punt van hierdie ellelange post: Hier by die anderkant het ek gekies vir ‘n anderste benadering. In die woorde van een van hierdie kommentatore, Amanda:

In die ontluikende kerk gaan dit nie oor eng doktrines nie, maar ‘n eerder oor die vestiging van God se Koninkryk hier op aarde deur te lewe in die weg van Jesus.

Ek sou kon sê dat dit vir my oor ‘n paar ander dinge ook gaan, maar daai is nogals ‘n nice opsomming.

Dus, groet ek julle. Ek sit my reis voort om te soek na God hier van die anderkant af. Ek kan julle waarborg dat Tom Lessing sal kommentaar lewer op hierdie post, maar siende dat ek nie weer daarheen gaan link nie, sommer nou die link. Dit is dan ook sommer die blog waarheen ek jou verwys as jy die heksejag op bykans enige predikant van die NG Kerk wil volg. Ek neem vrymoedigheid om vrylik comments te delete wat op hierdie blog verskyn wat enigsins aan hierdie heksejag deelneem, en nie dialoog (soos David Bosch dit mooi verduidelik het) bevorder nie. So weet dit, Kobus, Thomas, Amanda, DTW en wie ook nog lus het vir comment hier. Ek beveel aan dat jy die IMonk se comment policy gaan lees, want ek like dit, en maak dit sommer nou myne ook. Dit geld ook vir my ander blogs.

Daarmee groet ek dan.

op ‘n “kerk-manier”…

November 17, 2008

So, ons is nou proponente! Sterkte (ek het besluit sterkte is meer in orde as geluk in hierdie geval) ook aan Nicole en Tiaan, wat hier blog, en ook die ander vriende wat saam ons daar gestaan het…

Ons het geleentheid gekry om dankie te sê. Almal het dadelik geweet Nicole moet praat, sy is immers die een wat ons verteenwoordig, wat instaat is om almal in liefde bymekaar te hou. Om een of ander random rede is ek ook aangesit om daarmee te help. Nou, oor die hele dankie speach wil ek nie veel sê nie, behalwe dat ek amper begin tjank het toe ek op ‘n plek bietjie in kort die storie van ons klas vertel het, en ook toe ek…

… dit is waaroor hierdie post gaan, oor die eerste keer toe ek ampre getjank het (die storie was die tweede keer). Mens sonder mos nie mense uit as mens dankie sê nie, mens praat oor ma’s en pa’s en boeties en sussies, en dominees en sondagskool tannies, en proffies en klasmaats… maar ‘n paar mense moes uitgesonder word. En oor en oor sou verskillende mense uit die klas sê dat vir wie ons moet dankie sê is ons drie proffies wat aangekla is gedurende ons swot-tyd. Ja, op die detail wil ek nie nou ingaan nie, dis genoeg om te sê dat dit flippen sleg was, en dat die ringe uiteindelik bevind het dat die klagtes ongegrond was.

Het ek gesê dit was sleg? Dit was vrek sleg! Vir ons, maar ook vir hulle. Partymaal kon ons dit sien. Meeste van die tyd het dinge maar net aangegaan soos altyd, maar ons het geweet… dit is sleg. Waarvoor hulle uitsonder? Wel, vir die manier waarop hulle dinge hanteer het. Jy sien, daar is ‘n kerk manier waarop dinge hanteer word. En hulle het dit vir ons gewys. Hulle het vir ons iets geleer van hoe mens optree die dag wanneer die kerk jou begin aanval…

Ek kan nie sê ek gaan die voorbeeld volg nie, partymaal is ek lekker hardekop. Hopelik is dit natuurlik nooit nodig nie, maar op ‘n manier wonder ek… maar as ek ooit op ‘n punt kom waar dit nodig is, hoop ek dat ek hulle voorbeeld gevolg sal kan kry.

Hoekom net ons?

September 22, 2008

Saterdagoggend kom een van die emeritus-dominees in ons gemeente by my besoek aflê (hy het nie kom kuier nie, hy het kom besoek aflê). Hy wou ‘n klomp goed weet, oor my planne vir volgende jaar, wat sekere goed op ons afkondigingsblaadjie beteken…en wat by die fakulteit aangaan. Ek het sommer van vooraf kwaad geword. Nie dat ek enigsins mind om Proff Jurie, Julian en Dirk te verdedig nie, nee glad nie. Maar daarna het ek in die BY in Beeld gelees van hierdie accusations wat daar ALWEER teen die fakulteit is, blykbaar oor iets wat Prof Cas vir Prof Hoffie gesê het of hoe hy hom behandel het of sulke crap.

En ek het pissig gevoel. Hoekom is dit altyd NET Tukkies se fakulteit en sy dosente en NET die NG Kerk wat onder elke Jan Rap en sy maat se skoot kom? Hoekom word ons uitgesonder as die uitverkose target vir die land se godsdienstige probleme? Elkeen het ‘n vrye sê oor die NG Kerk, en glo my daar is baie mense binne die geledere (om dit nou maar so te noem) wat ‘n moerse effort insit om die beste te doen wat hulle kan.

Die vorige aand het ek saam met NG vriende gekuier wat in die week na een of ander Pastor Joshua se Heavy! Charismatiese! Pentekostalistiese! Toronto-blessing-agtige! Bybelstudie toe gaan. Hy het toe weer blykbaar iets te sê gehad oor die NG kerk en het ook kamstig iets gesê van die “hemele” of goed waarvan daar in genesis 1 gepraat word. Ek strip my moer toe sommer net daar vieslik. Mense wat nie die moeite doen om goeie eksegese te pleeg nie, kan met alle respek asseblief hulle lemoene vat en vakkaf. Jy prop nie twak in mense se koppe en noem dit dan inspirasie van die Gees nie.

En Tukkies se fakulteit, en die NG Kerk, en Professors Jurie, Julian en Dirk het my hierin gehelp. Dankie. Amen.

UITNODIGING NA ‘N AANBIEDING VAN PROF DIRK SMIT OOR DIE VRAAG: “WAT IS PUBLIEKE TEOLOGIE?”

April 14, 2008

Wel vriende, vir die van julle wat belangstel is die vraagstukke oor hoe die kerk se rol binne ‘n publieke omgewing moet lyk, is hierdie dalk ‘n goeie geleentheid. Publieke teologie vra na die teologie se bydrae in die gesprek oor hoe die samelewing funksioneer, dit vra ook na hoe die kerk se rol moet lyk binne die samelewing. Die veld is ‘n oorvleueling van Missiologie, Etiek, en bietjie Praktiese Teologie, maar natuurlik kan ons nie hieroor praat sonder die insigte van die Bybelwetenskappe en Teologie nie.

Die Sentrum vir Publieke Teologie herhaal hiermee ‘n uitnodiging aan diegene wat meer oor publieke teologie wil weet na ‘n aanbieding oor die vraag: “Wat is publieke teologie?” deur prof. Dirk Smit van die Fakulteit Teologie, Universiteit van  Stellenbosch. Prof. Smit is ‘n stigterslid van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie en ‘n kenner van die publieke teologie.

 

Prof. Smit sal sy aanbieding op Woensdagmiddag 23 April vanaf 14:30 tot 17:00 (met onderbreking vir tee) in die Teologiegebou, saal 2-1 op die hoofkampus van UP hou. Bywoning is gratis. Dit sal egter waardeer word as u per e-pos vir prof. De Villiers sal laat weet as u die aanbieding sal bywoon. (etienne.devilliers@up.ac.za

 

Moenie hierdie geleentheid om ‘n internasionaal erkende kenner van die publieke teologie te hoor praat, misloop nie!

In antwoord oor die vraag oor postmodernisme in ons opleiding

Maart 30, 2008

Sonkind vra die volgende vraag op Attie se blog:

Attie, nou wonder ek net, as daar soveel verandering nodig is om mense weer te laat kerk toe gaan en na die dominee luister, word die huidige en toekomstige teologiese studente voorberei hierop, lyk hulle studieplan en vakke anders as vandag se dominees? M.a.w. word die studerende dominees post-modern geleer?

En hoe kan dit gebeur, as die lektore dalk nog vasgevang is in die ou manier van dominee wees? Of vra ek nou dom vrae?

En aangesien Attie na my verwys eerder as om te antwoord, poog ek tog om die vraag so eerlik moontlik te antwoord. Ek hoop van julle ander studente sal ook inchip en ‘n bydrae lewer.

Ek het ‘n groot liefde vir die fakulteit op Pretoria, en daarom is dit vir my lekker om aan die een kant te kan sê die ouens is by met wat aangaan, en sleg om aan die anderkant te sê ek het ervarings gehad waar ek voel dat die mense is heel agter die berg. Die fakulteit het vir my die postmodernisme oopgebreek, daaroor het ek geen twyfel nie. Dit het my o.a voorberei op die emerging gesprek. Die reaksie van van die senior teologiese studente op iets soos “A new kind of Christian” van Brian Mclaren, toe van ons dit gelees het, was dat dit niks nuuts was nie, wat hy skryf is wat ons vir onsself moes uitfigure om te survive in ons eerste 3 jaar van teologiese studies. Toe Tony Jones hier was het Tiaan iewers in ‘n breuk gecomment “dit was nou ‘n baie goeie opsomming van 4 jaar se teologiese studies”. So aan die een kant ‘n absolute “ja ja ja”. Die fakulteit lei ons op vir ‘n nuwe era van kerkwees.

Maar soos reeds genoem, daar is ‘n ander kant. Daar was ook die geleenthede waar ek gevoel het ek word in ‘n boks gedruk om dinge op ‘n manier te doen wat ek TOTAAL ongemaklik mee is. Nou of ek postmodern is moet ander maar besluit, maar as ek wel iets van die postmoderne op natuurlike wyse geïntegreer het in my wese, dan beteken dit my gutt-feel sê dat hier nog iets van ‘n ou benadering verkondig word. Twee slegte ervarings hier rondom staan vir my uit, albei kan ek darem gelukkig sê was in die klas van afgetrede dosente, so nie die ouens wat nou by ons is nie. In die een klas was daar ‘n permanente argument (die periodes wat ek wel bygewoon het, want meeste het ek gekies om te bank a.g.v beter dinge om te doen as hierdie spesifieke klas) was tussen my en die dosent waar ek enigeiets wat na postmodern ruik moes verdedig. ‘n Ander ervaring was ‘n gryskop oom wat my ‘n modernis verklaar het a.g.v my interpretasie van ‘n sekere Pauliniese teks, dit was ook na ‘n redelike debat. Toe die gryskop oom my ‘n modernis noem, het ek besluit om maar die debat te los.

Goed, so daar is twee kante. Ek is tempted om meer spesifiek te wees oor waar ek watter kant beleef het, maar kom ek sê dit maar net so: In die proses wat my moes leer dink, het ek gevoel die postmoderne is geïntegreer in die kurses, in die proses wat my moes leer doen (as mens nog so ‘n skeiding kan maak vandag), het ek gevoel dit is nog nie werklik geïntegreer nie. Dus in kort, ek dink die fakulteit het die postmoderne epitemologies en filosofies geïntegreer, maar was nie instaat om ons te leer hoe ons die dag-tot-dag take in die gemeente aanpak binne ‘n postmoderne era nie.

Die implikasie van wat ek sê? Die fakulteit het vir my die tools gegee om myself voor te berei vir die bediening in ‘n postmoderne tyd, ek moet egter self nog baie werk dag tot dag doen om die realiteite van die praktyk uit te figure. Maar dan weer, is dit nie wat ons van ‘n universiteit verwag nie?

Wel, en dit is die meeste wat ek nog ooit postmodernisme in een post gebruik het. Ek haat eintlik dit term, want dit maak gesprekke baie moeilik as ons elkeen iets anders daarmee bedoel, en nee, ek gaan dit nie probeer definieer vinnig nie, dit is iets wat net oor koffie gebeur:-)

wat het ons geleer op fakulteit?

Maart 12, 2008

So, wat leer ons nou eintlik vir 6 jaar op Fakulteit? Ja, party lidmate dink hulle dominees het niks geleer nie, en ek is bevrees, daar is mense wat deur die 6 (of 7 in die verlede) kom sonder om iets te leer, maar wat van die ander? In klasgesprekke het dit duidelik geword laas week dat ander dieseflde antwoord het as wat ek al baie gedink het: Eksegese!

Ek het my lysie van modules wat my kop regtig geswaai het in die laaste 6 jaar. Ek gaan nie nou die hele lysie opnoem nie, sal dalk iewers as enige iemand belangstel. Maar met na ‘n paar verwys. Prof Steyn se module oor Lukas was ‘n definitiewe draaipunt in my lewe. Toe hierdie man vir my kom leer hoe om werklik versigtig met die Bybel se teks om te gaan, hoe om te lees, en weer te lees, en partymaal raak te lees wat jy heeltyd misgekyk het, het hy vir my ‘n wêreld kom oopbreek.

Vra jy my hoe om te preek, sal ek so bietjie babbels hap, ek kry darem gepreek, maar ek weet nie altyd regtig hoe maak mens nou preek nie. Ek glo pastoraat is ongelooflik belangrik, maar hoe om dit aan te pak bly vir my maar duister, ja, ook die Narratiewe benadering kan ek nie sê ek het onder die knie nie. Wat is die 20 groot Etiese benaderings? Nee, ek’s nie seker nie. So kan ek aangaan. Ek het baie geleer, orals baie geleer, maar nêrens meer as by die Eksegese nie.

Goed, vir die wat nie my akademiese slag volg nie. Eksegese is basies die kuns van tekste verstaan. Dit gaan oor hoe lees ek Bybel. Ek het nog vrek baie om hier te leer, maar as jy my in die middel van die nag wakkermaak, dan sal ek jou kan sê wat mens veronderstel is om te kyk: Historiese konteks, teologie van die boek, plek van die perikoop, struktuur van die teks, belangrike woorde in ‘n teologiese woordeboek, ‘n paar goeie kommentare. Ja, ons doen dit nie almal dieselfde nie, en hierdie is ook nie noodwendig my lysie, of die een wat ek geleer is nie, maar net om te wys, iewers het iets vasgesteek.

Dalk was dit net ons klas? Dalk was dit die storie van ons klas dat eksegese vir ons belangrik geraak het? Ek weet nie, maar dit is deel van ons gemaak op ‘n manier wat ek hoop nooit weer uit ons gehaal word nie, al lag die dominees vir ons omdat ons dink dis belangrik, omdat ons worry oor Griekse tekste en kommentare.

Gemeentejaar byeenkoms

Januarie 30, 2008

Gister was uiteindelik ons byeenkoms vir die M.Div 2 klas, die lot van ons wat nou gemeentejaar doen, die dominees by wie ons dit doen, en die mense van die fakulteit. Oor die algemeen ek dink nie ‘n sleg byeenkoms nie, goeie pizza, Prof Julian het ‘n gedeelte uit Keeping the Faith gewys, wat ek nog wil kyk, wat die trane laat rol het van die lag, en dit was goed om weer die klas maatjies te sien (Nicole se “kinders”).

Hulle sê ons doen 175 krediete hierdie jaar. Volgends die universiteit se calculations is dit 1750 ure se werk (goed, ek dink nie ek het al ooit 10ure aan ‘n krediet gewerk nie, maar nogtans), dit amount op 218.75 8uur dae, en dit moet klaar wees teen einde September. Dit behoort nie te moeilik te wees nie, behalwe dat die realiteit is dat ek dink nie een van ons by 15uur ‘n week se werk bly nie. O ja, dit is die aanbevole ure wat ons in ‘n praktiese jaar moet werk (buiten nou as ‘n jy addisionele kontrak as jeugwerker het of iets).

Maar kom ons wees nou eerlik, wie het nou al ooit net 15uur per week gewerk in ‘n gemeentejaar? OK, daar is seker mense wat het, maar wat doen jy as jy net 15uur per week werk? ‘n Preek saam met voorbereiding kan by 15uur draai, sal seker darem vir meeste hier rondom 8-10 draai (party doen dit in 3, voorbereiding ingesluit, maar dis dalk bietjie dodgy). Sluit ‘n predikante vergadering in iewers die week, nog ‘n uur, een of ander byeenkoms wat jy weekliks moet bywoon, Bybelstudie of jeuggroep of iets, nog 2, ‘n Sondagskool klas, nog ‘n uur ens ens ens. Tel die goed op, dan het daar nog niks admin gebeur nie.

Hoekom skryf ek die? Wel, as jy oppad is gemeentejaar toe, weet maar net, dis nie ‘n speel jaar nie, jy gaan hard werk. En as jy wonder hoekom die gemeentejaar studente niks doen nie… hulle doen actually iets, daar moet nogals baie tyd agter ‘n lessenaar spandeer word vir hierdie oefeningtjie.

My jongste stranddiens ervaring

Januarie 14, 2008

So ons is terug van Stranddiens af. Wat ‘n heerlike ervaring! Oe, dit klink so formeel…

Dit het gerock! Dit was awesome, excellent en flippen cool.

Vandat ons in die kar geklim het by die parkeerterrein van die kerk totdat ons vanmiddag (Sondagmiddag 6 Januarie 2008) so half drie se kant terug was, het ek dit geniet. Ja, natuurlik, om te sê elke liewe dingetjie het glad en sonder probleme verloop, is bloot nie realisties nie, maar dit was vir my regtig een van die heel lekkerste stranddienste. Dit was beslis die stranddiens waarop ek die heel meeste gelag het!

Om ‘n vinnige oorsig oor die week te gee, gaan ‘n mission wees, so ek gaan nou maar vertel soos dit in my kop opkom.

Elke dag se program het dieselfde verloop:
06:30 voogde op die strand
07:00 span op die strand vir bewuswording
08:00 ontbyt
08:45 Bidbuddies
09:00 regmaak vir strandspele
10:00 strandspele (aksiekrieket/touch rugby/sandkasteelkompetisie en strandgames/survivor)
12:30 middagete
13:30 regmaak vir poppekas
14:00 poppekas
14:45 konsertoefening
16:00 aftyd
17:00 Huisbesoek (soms)
18:00 aandete
19:00 bestuurspanvergadering (soms)
20:00 aandprogram (saalspeletjies/talentaand/konsert/praise & worship/youth bash/sokkies/koffiekroeg)
22:00 dagevaluering
23:00 slaaptyd

Die Sondag was daar ‘n erediens in plaas van strandspele en geen poppekas nie en op Oujaar was daar ‘n middernagdiens (wat yours truly moes lei sonder dat ek vooraf daarvan gesê is!).

Dis moeilik om alles te vertel, daar het so baie dinge gebeur. Besoek gerus die NG Vryheid TO Stranddienste group op facebook, dit gaan binnekort baie foto’s en nuwe goed op hê.

Waarby ek wil uitkom, was die ervarings wat ons gehad het.

Die sports en games was lekker, soos altyd en die poppekas was snaaks, soos altyd. Hano en Andreas was weer Wolf en Zebra (die 2 stoutetjies), maar hulle het meer gereëld die nuwe outjies kans gegee om hul plek te begin inneem. Wiam was die een dag die tandarts, Dr Naas, en het ‘n skreeusnaakse debuut-vertoning gelewer. Nogals ‘n natural.

Konsertoefening was maar bedrywig, maar nie so hectic soos wat dit al in die verlede was nie. Ek dink dit het baie te doen gehad met Marnie se aanslag. Sy wou ‘n gemaklike, uit-die-hart-uit konsert gehad het en ek dink ons het daarin geslaag. Ons het ‘n Trip Down Memory Lane gehad en al ons lekkerste mimieke gedoen: Testify To Love, Varkieliedjie, Don”t Stop Me Now, Everyday, In Die Hemel Is Die Heer, Dive, Walk On Water en dan die nuutste toevoeging, Jubeljaar (Louis Brittz-geel cd weergawe). Jubeljaar het net op die regte plek gekom. Ons wopu dit al lankal gedoen het, maar dit was net nooit reg nie – tot vanjaar toe. Soveel pret met een liedjie is moeilik om te hê, maar dit was net vrek lekker! Kudos aan Louis Brittz en al die ander ouens (Avalon, Prophet, Steven Curtis Chapman, Queen) wie se liedjies ons oor soveel jare kon bymekaarmaak en gebruik om deur danse die evangelie daardeur te verkondig. Dankie, dankie, dankie!

Die Praise & Worship-aand was ook awesome. Hierso sê ons onder andere ook dankie aan Michael W. Smith en Retief Burger vir sy bydraes tot gospel wat ons help om lekker te sing en die Here in Afrikaans te loof sonder dat dit klink soos iets uit ‘n kinderkrans-cd opname. Ek en Nelmarie Mahne het ons getuienisse gelewer tussen die liedjies deur en na die tyd was daar koffiekroeg, waar daar baie jongmense was. Daar was regtig meer jongmense as wat gewoonlik by ons praise & worships was en wat daarna vir ons kom vertel het van dinge in hul lewens. Dit was so ‘n lekker warm gevoel, soos wat ek maar altyd het na ‘n geslaagde TO p&w.

Niks kon my egter voorberei vir wat nog sou volg nie.

New years het gekom en gegaan en ek het twee dae voor die tyd gehoor het moet die diens lei en die preek doen. Gelukkig het ek al lankal aan ‘n idee vir ‘n preek rondom die verlore seun se agtergeblewe broer begin dink, maar my eksegese was regtig beperk tot die Nuwe Vertaling en die Heilige Gees se leiding. Gelukkig verwag niemand om ‘n uur lank in ‘n oujaarsdiens te sit nie, so dit kon maar kort wees!

Maar dit was vir my ‘n voorreg om so iets te doen op ‘n plek waar ek eintlik “groot” geword het en wat crucial was in my geestelike vorming. Die random dronk ou wat op die strand vir ons die Onse Vader kom try opsê het vyf minute voor die countdown en die girl wat die outjie wat kamstig besig was om dood te bloei se ma-hulle kom soek het 30 sekondes voor die countdown, was…’n bysaak. Die vuurwerke was mooi (die wat nie op die sand ontplof het nie).

Dit was egter nie die ervaring waarna ek wil verwys nie.

Die dag na ons heerlike feeskonsert was dit karavaan-ruildag in die oord, die 2e Januarie. Dit het beteken dat die meeste van die mense weg is en ons nog net ‘n klomp mense van die chalets en die villas en hier en daar ‘n karavaan gehad het. Die aand het ons ‘n Youth Bash gehou – wat eintlik maar net ‘n anderster tipe praise en worship sou wees. Nedine wou twee video-clips van Planetshakers speel: een vir ‘n intro en een net nadat ek die boodskappie sou lewer by ons “altar-call”-tipe (her)commitment-deel van die aand (julle weet waarvan ek praat!). Toe ons wou begin, wou die dvd nie deur die media players wat ons gebruik het, reg speel nie. So ons besluit toe om maar net aan te gaan met die res van die liedjies.

Ons p&w’s werk gewoonlik so dat ons die woorde in Powerpoint slides op ‘n skerm gooi met ‘n mooi agtergrond en dan werk ons met mp3’s en die program loop sonder aankondiging. Ons begin met ‘n paar lekker op en wakker “Praise” songs en gaan dan oor in rustiger “Worship”songs (ek weet mens onderskei nie eintlik tussen die twee soorte nie, maar dis bloot ter verduideliking). Ek (of die dominee wat saam is, maar gewoonlik ek) lewer dan ‘n kort boodskappie en dan sluit ons af met nog ‘n paar songs, waarvan die laaste een Friends van Michael W. Smith is.

Hierdie een was nie juis verskillend nie, maar ons het die saal ‘n bietjie anderster ge-setup. In die middel van die vloer het ons met papier ‘n kruis gepak en randomly rondom dit kerse in onderstebo polistireen-glase gesit. Die idee was dan om een aan te steek en dan, wanneer jy gereed was om ‘n (her)commitment te maak, dan het jy jou kers gaan aansteek en op die kruis gepak.
Ek het weer met die tema van die verlore seun gewerk, ‘n tema wat regdeur die stranddiens geloop het, van die voorkamp af al. Die ding waarop ons gefokus het die hele tyd was dat jy BY die Fees kan wees, sonder om DEEL van die Fees te wees – of jy nou die jonger of die ouer broer was.

En hier het ek toe, deur die genade van die Heilige Gees, onthou om die storie na albei geslagte toe te verleng – iets wat ek by my proffies op TUKS geleer het. Ek het begin deur vir die mense te sê ek wil vir hulle ‘n storie vertel wat hulle dalk al baie goed ken: die storie van die pa met twee seuns. Of die pa met die twee dogters. Of die pa met die twee kinders…

Ek is só bly dat dit gebeur het, want later was dít die sleutel wat gehelp het dat elkeen wat daar was die verhaal sy of haar eie kon maak.

Die dvd wou toe weer nie speel nie en Nedine speel toe net die liedjie, Saviour King, terwyl die kerse aan die brand gesteek word.
En toe, soos wat die kerse een vir een aangesteek word, het die kinders begin huil. Spanlede, oordkinders, groot en klein, almal was so aangdaan en oorweldig deur die teenwoordigheid van God wat op daardie oomblik so tasbaar geword het, dat dít die ervaring geword het wat ek só gehoop het ek weer op TO sou kon beleef. Al die spanlede het mekaar begin vashou en druk; vriende wat vir die eerste keer saam daar was, soos Wiam en Jan, kon ‘n dun oomblik saam God ervaar en ‘n splinternuwe vlak van vriendskap betreë. Marnie kon vir die eerste keer in ‘n lang tyd eerlik begin wees oor hul situasie by die huis rondom haar sussie wat in die afgelope jaar geskei is. Andreas kon beleef hoedat ander mense by hóm hul kerse kom aansteek. So kan ek aangaan…Ons het almal net by die kruis gaan sit en vir die kerse gekyk, terwyl die musiek net aangehou speel het. Ek het maar net gesorg dat daar die heeltyd musiek is wat in die agtergrond speel (dankie aan Retief en die Luidkeels Hersien-cd, by wie se opname ek was – special stuff).

God was getrou. God het Sy beloftes gehou. Die trane het gerol en God het harte aangeraak.
Wat ‘n aand! Dit is die tipe aand wat jy net op TO Strand kan beleef in die teenwoordigheid van God. As jy al ooit daar was, sal jy weet wat ek bedoel. Andersins hoop ek van harte dat jy al so ‘n nabye ervaring van God saam jou vriende kon beleef of dat jy dit nog sal beleef in hierdie lewe…

Die aand daarna was dit vir die girls nodig om bietjie alleen in hul kamer tyd te spandeer (ons los dit net daar) en toe het ons ouens ook kans gehad om alleen te kon gesels. Wanneer ons in die aande saam afgesluit het, het ek Bybelgedeeltes uit Dawid se lewe hanteer. Dié aand lees ek toe die deel waar Dawid aan Mefiboset, Jonathan se seun, genade bewys en ons chat toe sommer so oor vriendskap en hoe jy jou Christenvriende nodig het, veral by die skool wanneer ‘n mens teruggaan en jy nie meer elke dag in hierdie Stranddiens-tipe opset funksioneer nie. Hoe ons Christus vir mekaar moet wees en hoe ons ware identiteit nie lê in die aktiwiteite waaraan ons deelneem nie, maar in die feit dat ons seuns, manne, van God is.

Die gesprek het ook sy draai by masturbasie en seks gemaak en ek en Hano kon reguit met die hoërskoolouens daaroor gesels. Vir ‘n paar van hulle weet ek dat dit die eerste keer was wat hulle in ‘n geselskap was waar ouens nie iets vuils daarvan gemaak het nie, maar juis kon praat oor hoe mooi dit bedoel is om te wees. Dit was vir my net so ‘n dun oomblik as die vorige aand: die geleentheid om vir jonger outjies te kon wys dat ‘n Christen se lewe regtig lekker is; dat ons nie skaam is oor dinge nie, maar dat ons die lewe in al sy fasette anders (moet) benader as die wêreld rondom ons. Dit was ‘n reuse voorreg om dit wat ek al geleer het, akademies sowel as non-akademies, oor te kon dra aan die jonger ouens.

Hiccups met die spanbestuur, wat net soos in heeltemal afwesig was ten spyt, was dit ‘n Stranddiens wat ek altyd in my hart sal dra, veral ook omdat ek nie seker is of ek (hoe graag ek ookal wil) wel aan die einde van die jaar by die span sal kan aansluit nie.
NG Vryheid Moedergemeente se stranddienste het ‘n manier om hul temas uit te leef en hierdie een was nie anders nie:

Dis Overall ‘n Fees Om ‘n Christen Te Wees!

Welkom

Januarie 3, 2008

Die idee hiervoor lê al lankal in my agterkop. So hier is dit, ‘n klompie teologiese studente van Tukkies wat saam blog. Wat presies hier gaan gebeur sal die tyd alleen leer, ons het nie regtig riglyne vir mekaar neergelê oor wat moet, mag mag, wat moenie, en wat maggie, so kom ons kyk maar waarheen gaan dinge. Los ‘n comment en help om rigting te gee aan waarheen ons oppad is.

Jy kan die mense wat hier blog maar so met tyd leer ken in hulle posts, en hou die bloggers page dop, maar moenie nou al iets daar verwag nie. Party is nou nog juniors, ander het pas klaar geswot, maar almal is verbonde aan TUKS, die Universiteit van Pretoria, en die teologiese fakulteit daar. Die girls en ouens wat hier skryf sal hopelik bietjie refreshing thoughts oor kerk en lewe en teologie en spiritualiteit hê.

Almal het lekker gemoan en baklei oor die fakulteit in die laaste drie jaar, maar sadly het almal oor die studente baklei, i.p.v om net bietjie te hoor hoe dink ons oor dinge, en hoe dink ons oor julle fight. Ek belowe nie dat enige iemand lus het om iets daaroor te skryf nie, maar kom hoor net bietjie wie is hierdie mense.

Ek self is besig met my gemeentejaar en M.Div skripsie. Was 5 jaar op TUKS, 5 jaar in Taaibos. Blog al meer as ‘n jaar lank op ander plekke, en dis waar die idee vir hierdie blog sy ontstaan gehad het. Gaan al vir basically 5 jaar met Maryke uit (sy is tans op ‘n eiland iewers suid van Engeland bascially sonder selfoon opvang, dis BAD).

Kom ons los dit vir eers maar net hierso. Dinge sal waarskynlik half stadig gaan die volgende 2 weke tot ons almal weer terug is van vakansies af, terug is by die universiteit, en tot hier ‘n ritme gevestig word op die blog.