Archive for the ‘Suid Afrika’ category

Community deur ‘n taxi-rit

Oktober 11, 2010

Ek het bietjie lanklaas my teologie-skryf-hoed opgehad, maar hierdie saak raak my nogal redelik na aan die hart.

Ek sit en lees vanmiddag die kerkbode. Ek probeer maar op hoogte bly met die stuff in die kerk en die wêreld en daai tipe van ding. Hierdie een artikel in die Oktober uitgawe het my nogal geraak. Andries Conradie, ‘n afgetrede skoolhoof skryf: “God, waarom lyk die wêreld so?” Eers dink ek hy gaan skryf oor die geweld en die misdaad en hoe sleg dit in ons land gaan soos wat ons almal maar gedurig hoor en lees oral. Maar ek is aangenaam verras toe dit ‘n positiewe storie is van hoe ‘n afgetrede wit man ‘n lang-afstand taxi vat van Kokstad na Johannesburg.

Hy skryf hoe hy die laaste sitplek kry op die taxi en hoe die bestuurder en die res van die passasiers hom gehelp het om gemaklik te wees en tuis laat voel. Hulle vra hom toe of hy nie ‘n kar het dat hy self kan ry nie. So iets wat ons so maklik as vanselfsprekend ervaar. Hy praat van hoe hulle na lekker Afrika musiek gesit en luister het en “dit word afgewissel  met stemmige Gospel-sang waarby passasiers lustig inval en vir die oningewyde ‘n knop in die keel gee”. Ek is nie groot op die gospel nie, maar ek het al beleef hoe ons VGK broers en susters kan sing en dis rerig ‘n belewenis. Maak my sommer weer lus om deel te wees van alles wat te doen het met die kerk. Maar in elk geval, terug by die storie, hy sê dat later hulle country begin luister en so begin hulle debatteer oor vroueregte en allerhande ander sake. Dit is nou community soos wat ek dit sal verstaan. Mans, vrouens, wit, swart almal besig om lekker saam te gesels en by mekaar te leer en net saam te wees.

Hierdie bring my by ‘n ander punt. Hierdie ding dat ons so een-een in ons eie karre eerder werk toe ry as wat ons bietjie gebruik maak van ons publieke vervoer stelsel. Ek het vir die beter deel van die afgelope twee jaar bus gery in Pretoria van die huis af na die Universiteit toe en weer terug. Ja jy wag so bietjie, maar ek hoef nooit te ge’worry’ het oor parkering of petrol joggies wat staak of al daai jazz nie. Jy ontmoet die weirdste en die coolste mense en jy gesels hond uit ‘n bos met die mense wat jy dan weer raakloop. Oom Andries skryf: “vir diegene wat wel deesdae gebruik maak van treine en busse, word persoonlike gerief van die grootste belang geag.” Dis waar, en ek kan relate. Ek meen as jy nou vir ‘n rukkie gaan sit dan wil jy darem gemaklik sit, maar ek dink ons moet bietjie uit ons comfort zones uitskuif. En hiermee bedoel ek nie, los als en gaan op ‘n uitreik hier iewers bo in Afrika om ‘jouself te vind’ of whatever nie, ek bedoel gaan gesels met iemand nuut more of ry saam met ‘n werkspel saam werk toe en help die verkeer en die aarde sommer op 1 slag 😉

Hy skryf ook dat hy wonder hoe baie van ons die moeite gedoen het om in die sokker wêreldbeker tyd bietjie dieper in die townships te gaan kuier of net bietjie rond te loer. Ek moet bieg ek het nie. Ek was in my comfort zone in my huis in my dorpie. En ek kan nou talle verskonings uitdink, maar die feit bly staan dat ons eintlik so min weet van hoe ons swart mede-burgers lewe en die lewe verstaan. Dink net hoe baie ons kan leer as ons net na mekaar wil luister.

 

Dominees is ook maar mense

Mei 18, 2010

Ek het gisteraand heel onverwags (eintlik ongenooid) opgedaag by ‘n kuiertjie wat een van die dominees by NG Doornpoort gereel het vir een van die grootste fasiliteerders in die kerk, Frederick Mare. Soos jy kan imagine was daar lekker kos en lekker wyn en natuurlik hope goeie gesprekke.

Ek het nie vreeslik bygedra tot die gesprek nie, want let’s face it, ek weet eintlik maar nog niks nie… maar dit was interessant om te sit en luister en net in te neem wat gebeur. Ons het eers gesels oor ditjies en datjies, gehoor van die mense se travels en so aan. Een dominee en sy vrou was onlangs in Nederland en London om bietjie die kerk daar uit te check en ons het die stories gehoor van wat gebeur het. Frederick en ons gasvrou was ook al daar, oeg en toe begin die stories eers! Dit was groot pret om te hoor wat daai Hollanders aanvang haha. Hulle het soos 2 handdoeke vir as jy nou klaar gebad het. Een vir bo en een vir onder! En kan jy jou nou in dink wat hulle gaan dink as hulle sien ons gee net vir hulle een!

In elk geval toe praat ons bietjie oor die emmigrasie van Suid-Afrikaners en die Afrikaanse kerke wat gestig word in die buiteland soos Auckland en London. Maar die interessante van hierdie gesprek was dat hierdie mense eintlik verloor wat regtig aangaan in SA. Hulle hou vas aan die verlede en dink dis maar hoe ons aangaan hierdie kant. En eintlik is ons besig om heeltyd te verander, om aan te pas. Suid-Afrika nou lyk anders as 4 of 5 jaar terug, nie eers te praat van 10, 15, 20 jaar nie. Ek kan nogal hiermee saamstem, want ek het self familie in Kanada wat nou 11 jaar al daar is. Hulle verstaan nie regtig wat aan die gebeur is nie en alhoewel hulle Suid-Afrikaans wil bly, is hulle eintlik nou al Kanadese.

Dit was goed om te sien hoe hierdie predikante net bietjie ontlaai, net bietjie met hulle kollegas kan  sit en gesels oor wat aan die gebeur is in hulle gemeentes, families en eie lewens. Dit was goed om te sien dat hulle ook maar kan gesels oor dinge wat pla, maar ook oor dinge wat hulle opgewonde maak, om net saam te kan lag oor stories en ervaringe. Dit was goed om te sien hoe dominees ook maar mense is.

Drumming circle… wat’s dit?

Maart 27, 2010

Ek was gisteraand by ‘n drumming circle gewees. Een woord kan dit beskryf: Awesomeness!!

Dit was regtig een van die lekkerste ervarings wat ek nog ooit gehad het. Aanvanklik was ek maar skrikkerig daarvoor, want dis nie regtig iets waaraan ek gewoond is nie, maar my vriendin (wat ook teologie swot) het my omgepraat en nou ja ons vat toe die pad en gaan geniet dit. Dis ‘n baie lekker vibe nog voor jy eers begin het met die dromme. ‘n Area is uitgelê vir ‘chilling’, daars ‘n bar, die drumming circle (ja, letterlik ‘n sirkel) en dan nog ‘n area afgesper waar mense met vuur speel, of eerder toertjies doen.

Dit kos jou so 40 bokke om ‘n drommetjie te huur, maar dis regtig die moeite werd. Daar is mense van all over wat net hulself kom inleef in die beat. En ek oordryf nie as ek sê van all over nie. Daar’s hippies en teologie studente, weird mense, jocks, geeks, gays, straight, swart, wit, vrouens, mans, kinders, ou mense, ‘n mengelmoes van die mense van ons rainbow nation. En ek LOVE dit!!

Iemand begin gewoonlik met ‘n beat en dan gaan jy aan van daar af. Jy hoef nie eers ritme te hê om te join in die pret nie, jy kan net jou drommetjie slaan na hartelus. Ek het self sommer net paar keer gesit en luister na die beat. Jy vergeet van die kantoor, van die leerwerk van die regte wêreld. Jy kan net rustig wees en jouself verloor in hierdie sirkel van klank.

Ons kan eintlik so baie leer van community en sharing. Mense ruil dromme uit, lag saam, speel saam, en meer belangrik luister saam. Soos ek en Cobus ook gisteraand gesê het, ‘n drumming circle het baie potensiaal om gebruik te word in ons gemeentes en gemeenskappe. By jeugkampe ens. As ons net bietjie uit ons comfort zones wil wegbreek en iets nuuts probeer, soos ek gedoen het gisteraand, sal ons besef daar is soveel meer in die wêreld wat ons kan gebruik ten goede.

Ons moet iets vir die jeug doen! Nog ‘n jeugweek! Nog ‘n spreker! Nog ‘n praise en worship! Ons moet hulle by Jesus uitkry! Die einde van die wêreld is naby! AAAaaahhh!!!!!

Augustus 12, 2009

Okay, ek skat dis bietjie van ‘n lang titel vir ‘n blog post, maar dit was min of meer die strekking van ‘n gesprekkie wat ek netnou gehad het.
So, die een CSV juffrou wil die administrasie periode van die een skool gebruik as ‘n geleentheid waartydens ek en my charismaatjie die skool se tieners eiehandig moet omkeer van die breë na die smalle weg toe want hulle suip en steek hopeloos te veel. Which is fair – hulle doen. Maar nou vra ek: wat de hel moet ons nou nog vanjaar doen wat anders is, net om “die kinders by Jesus uit te kry” ? (klink soos wanneer jy klein was en jou ma het jou op Kersvader se skoot uitgekry: “Liefie, wat moet ons doen om die kinders by Kersvader uit te kry?” “Staan in die ry by Checkers, my skat.”)
Ek het niks teen jeugweke, gassprekers of praise en worships nie. Regtig nie. Ek organise die goed myself. Ek weet net dat geen tiener gaan val vir ‘n weeklikse (verpligte) sessie in die skoolsaal waar ons hulle om die beurt op ‘n gereformeerde en charismatiese wyse gaan “vermaak” met ‘n preach of ‘n Nooma-dvd nie. Kom nou.
Ek werk gereeld met hulle, en verstaan dat hulle programme al klaar hiper-oorvol is. Nou moet ons nóg ‘n dingetjie inwerk, nóg ‘n preek voorberei, nóg kringleiers (leiers! ha!) kies om nóg ietsie in die week te doen, terwyl ons eintlik, na my mening, net beskikbaar moet wees vir die kids.
Sure, ‘n gebedskamer is ‘n mooi gedagte. Wat in stand gehou, versorg en gebruik moet word. Sure, prayer walks het sy voordele (en ook sy nadele) en dit kry op grootskaal gemoniliseer om dinge te doen.
“Dan moet ons sommer ‘n paar kampe ook hou.” Nou, ek is die laaste persoon wat sal sê dat dié idee suig, maar ek weet mos op wie gaan die reelings afkom: my en Ruben.
Ons het mos f-ol om te doen.
Ons het mos nie ons eie gemeentes se jeug om oor te dink, droom of te worry nie.
Ons is mos verveeld.
Ons het mos nie ons eie struggles met probleme in ons lewe nie.
Ons het mos baie geld tot ons beskikking, in ons persoonlike sowel as kerk-rekeninge.
So kom ons doen dit, voordat Jesus volgende jaar all of a skielik hier gaan oppitch en vir ons vra: “Watse verskil het ons gemaak?” en vir ons ‘n punt uit 300 gee.
Gou-gou.

Swaarkaliber Springhaas-jag en Reverse Mentoring

Junie 18, 2009

So ‘n paar naweke gelede het ek saam met twee van my jeug-vriende (hulle is my vriende, eintlik meer soos broers, maar hulle is in ons jeug) springhase gaan jag. Nie jaag nie, jag. Dit was laat een Saterdagaand, na al die Super 14 wedstryde gespeel was en dit was die hele dag reënerig en winderig. Toe ons uiteindelik die aand uitgegaan het, was dit bitter koud.

Gelukkig help dit om so twee windbreakers bo-oor mekaar aan te trek, veral as jy in ‘n rhino ry. Die goed het mos nie vensters of niks nie, so die koel naglug het ysig op ons gesigte gespeel.

Nou hoekom swaarkaliber? Want ons het met ‘n 30.06 gaan jag. Okay, vir party mense is daar seker niks snaaks daaraan nie, maar ek is gewoond om sulke lawwe goed met iets soos ‘n .22 of hoogstens 243 die hiernamaals in te blaas. Dis nou wanneer hulle nie sommer geskop of teen ‘n bakkie se wiel geslaan word nie (die DBV gaan my seker kom toesluit hiervoor..!).

Maar okay, ek maak nie die reëls nie, so hier is ons die koue, donker nag in met die geweer, ‘n pak patrone, ‘n klein spotlight en twee sterker skietlampe, op soek na klein, harige, langoor ongediertes wat raaplande en ander gesaaides verniel.

Behalwe dat ons op die ou end net twee hase kon plattrek (albei pensskote), was dit eintlik ‘n opwindende, lekker aand. Dit was ook ‘n aand waar reverse-mentoring weer eens vir my so duidelik soos nog iets geword het. Hoewel ek weet hoe om met ‘n geweer te werk en nie nervous rondom die goed is nie, het ek eintlik lanklaas gejag, veral in die aand (en my sig is dan op sy slegste). Dit was duidelik hoe die rolle omgeruil het tussen my en my vriend op wie se plaas ons was. Al is ek gewoonlik die ‘jeugwerker’/’mentor’, was hy die een wat die shots geroep het, wat bestuur het, wat die leiding in die situasie geneem het.

En dit was vir my goed. Want dit is sy terrein, is dit nie? En is die hele mentor-ding, soos ek dit verstaan, nie juis ‘n plek waar ons albei by mekaar kan leer, eerder as wat ons net in ‘n leermeester-leerjong situasie staan nie? Mentoring is tog ‘n verhouding waar die “mentor” die “mentee” sekere skills leer, maar ook bereid is om deur die “mentee” sekere skills geleer te word in ‘n area waar die “mentor” nie oor die nodige kennis beskik nie.

Dis lekker om dit saam met jongmense te kan doen. Dis opwindend. Try dit, ek dare jou.

Hoekom net ons?

September 22, 2008

Saterdagoggend kom een van die emeritus-dominees in ons gemeente by my besoek aflê (hy het nie kom kuier nie, hy het kom besoek aflê). Hy wou ‘n klomp goed weet, oor my planne vir volgende jaar, wat sekere goed op ons afkondigingsblaadjie beteken…en wat by die fakulteit aangaan. Ek het sommer van vooraf kwaad geword. Nie dat ek enigsins mind om Proff Jurie, Julian en Dirk te verdedig nie, nee glad nie. Maar daarna het ek in die BY in Beeld gelees van hierdie accusations wat daar ALWEER teen die fakulteit is, blykbaar oor iets wat Prof Cas vir Prof Hoffie gesê het of hoe hy hom behandel het of sulke crap.

En ek het pissig gevoel. Hoekom is dit altyd NET Tukkies se fakulteit en sy dosente en NET die NG Kerk wat onder elke Jan Rap en sy maat se skoot kom? Hoekom word ons uitgesonder as die uitverkose target vir die land se godsdienstige probleme? Elkeen het ‘n vrye sê oor die NG Kerk, en glo my daar is baie mense binne die geledere (om dit nou maar so te noem) wat ‘n moerse effort insit om die beste te doen wat hulle kan.

Die vorige aand het ek saam met NG vriende gekuier wat in die week na een of ander Pastor Joshua se Heavy! Charismatiese! Pentekostalistiese! Toronto-blessing-agtige! Bybelstudie toe gaan. Hy het toe weer blykbaar iets te sê gehad oor die NG kerk en het ook kamstig iets gesê van die “hemele” of goed waarvan daar in genesis 1 gepraat word. Ek strip my moer toe sommer net daar vieslik. Mense wat nie die moeite doen om goeie eksegese te pleeg nie, kan met alle respek asseblief hulle lemoene vat en vakkaf. Jy prop nie twak in mense se koppe en noem dit dan inspirasie van die Gees nie.

En Tukkies se fakulteit, en die NG Kerk, en Professors Jurie, Julian en Dirk het my hierin gehelp. Dankie. Amen.

generasiegapings, emerging, en ander dinge wat ek by hoërskool vriende leer

Augustus 9, 2008

Ek het baie mense wat my mentor. Oor die laaste 2 of 3 jaar het ek besef dat van hulle jonger as ek is. Van hulle is nog op skool. Dit sluit o.a my jongste broer in, en ‘n klompie vriende. Nadine is een van hulle. Daai blog is nie tans aktief nie, maar ek gooi vir julle die link in, sign elkgeval op vir haar RSS feed, en lees wanneer sy wel skryf.

Elkgeval, ons het ‘n goeie gesprek oor kerk en dinge gehad so paar weke terug in Kung-Fu kitchen (as jy nog nie besoek het nie, net agter daai bar in Hatfield wat se naam heeltyd verander, ek dink dit is nou Springbok bar of iets, net oorkant Asterhof), en toe vanaand lank gechat. Wonder van gmail is dat hy die gesprek save, so nou kan ek teruggaan en weer lees wat ons geskryf het.

Ek love my gemeente. NG Kameeldrif, daar Noord van die berg. Is besig om ons website oor te design, gaan moontlik ‘n blog ook hê, dan is dit nog ‘n blog wat jy maar kan lees. Nuwe design word 24 Augustus gelaunch, so kom kyk gerus. Nou ja, ek love die plek. Ek werk saam met twee wonderlike kolegas (OK, dit lyk soos gatkruip, maar ek bedoel dit regtig, vra die mense wat weet wat ek skinder agteraf, ek sê dit daar ook), dis ‘n jong gemeente (gemiddelde ouderdom 34), mens kan challenging goed preek en die mense verteer dit. Maar tog ervaar ek dit nie regtig as ‘n geestelike tuiste nie. OK, hier is die confession tyd nou ek weet. En hoe kan die dominee dit skryf? Dalk is dit omdat ek daar werk, dalk ervaar alle dominees dinge maar so. Maar ek beleef my eie spiritualiteit baie keer maar buite die kerk.

Iewers het ek net so nagging gevoel aan my dat daar iets meer moet wees. Dat die kerk meer moet wees as wat dit huidiglik is. Dat Jesus nie bedoel het dit wat ek in die kerk beleef nie. Ja, noem dit emerging as jy wil, noem dit deel van hierdie postmoderne generasie. Realiteit is dat ek nog nie by enige iemand kon hoor hoe ek my gemeente moet neem van waar ons nou is, na dit wat ek droom nie. Dalk omdat ek nog aan my eie droom vorm.

Maar goed, saam met Nadine het ek op die volgende gedagtes afgekom. Niks rewolusionêr nie, daar is baie ander wat hierdie dinge sê. Ek ervaar ‘n definitiewe soeke na spiritualiteit, spiritualiteit het ek in die gesprek gedefinieër as “‘n gevoel van dat daar ‘n “meer” is aan die lewe, en dat ek kan oplink met daardie “meer”, wat ons God noem“. Dalk is gevoel nie die regte woord nie, maar jy kry die prentjie. Ek dink ook daar is onder baie mense ‘n soeke na teologie: “die verwoording van hierdie “meer”, woorde oor God“. Baie jong mense soek werklik na nuwe maniere om oor God te praat, en in baie gevalle net na maniere om oor God te praat, want teologie is vir te lank die taak van die dominee gemaak, so hulle het niks nie.

Maar terselftertyd is die kerk in ‘n krisis. Ons wil die nie altyd erken nie, en ons laat dit altyd sagter klink, maar dit is waar. Mense bat die kerk vir ‘n 6 time and again. Ek het op ‘n plattelandse dorpie grootgeword. Ons was seker so 60 Afrikaanse leerlinge per graad in die enigste skool. Ons was onder 30 in die belydenisklas. 30 Jaar terug was blykbaar 99% Afrikaners lidmate van Afrikaanse kerke. Vandag op die platteland kom minder as die helfte na die geleentheid waar ons nog van die beste hits kry, belydenisklas!

OK, maar die kerk gaan nie oor getalle nie. So ek dink die probleem van die kerk lê op ander terreine. Dat ons nie meer ‘n alternatief kan bied nie. Ons kan nie alternatiewe bied op individualisme en verbruikersmentaliteit nie. Selde is ons werklik besig om die vraagstukke van die land aan te spreek, VIGS armoede… en om alles te kroon wonder ek baie keer hoe suksesvol ons is om die sin-vraag te beantwoord. En in alle eerlikheid, as die religieuse instansies dit nie doen nie, dan is daar ‘n ernstige probleem!

Goed, maar ek dwaal nou af. Die kerk beleef ‘n krisis, Alan Roxburg noem dit die belewenis van liminaliteit. En hoe reageer kerke? Wel, party versterk die dualisme. Maak seker mense weet dat hulle ‘n godsdienstige lewe het, en dat die kerk daarmee sal help en geen ander plek kan nie, en ignoreer alle ander sfere. Nog meer ekstreem kies party vir fundamentalisme, wat vir jou sê dat net hierdie kerk (ja, ek weet hulle sê die Bybel, maar daarmee bedoel hulle eintlik net my interpretasie van die Bybel, en dus per implikasie net my kerk) die antwoorde het, en vertel jou dis sonde om op ander plekke in die wêreld te gaan luister. Dus, as jy net ons ken, wel, hoekom sal jy dan skuif.

Ek lees op plekke dat die kerk maar nog heeltyd geskuif het tussen ‘n institusie en ‘n beweging. En dit is fine. David Bosch skryf in Transforming Mission dat vroeë kerk, wat ‘n beweging was, moes institusionaliseer om te oorleef. Jy kan nie permanent ‘n beweging bly nie! Maar partymaal moet die kerk weer beweging word om te oorleef, mens kan nie heeltyd institusie bly nie. En ek dink dit is was nou aan die gebeur is. Onder die oppervlakte is daar ‘n stuk energie wat dreig om uit te kom, wat al ontplof het op plekke. Ek sien dit hier en daar by jongmense, meer en meer. Hulle skreeu uit dat die kerk ‘n beweging moet word. Maar bewegings is ‘n helse bedreiging vir die institusie, en daarom skop die institusie daarteen. Ja, ek weet daar is mooi tekens binne die NG Kerk van plekke waar ‘n nuwe beweging embrace wil word, maar kan ‘n institusie ooit in sy geheel ‘n beweging embrace? Kan ‘n institusie sy konstitusies laat vaar? Sy hierargieë laat vaar? Ja dit klink onmoontlik, maar die borrelende energie vra juis dit!

Hierdie borrelende energie moet natuurlik weet dat ook hierdie beweging hierdie gaan institutionaliseer, en dalk vinniger as wat mens dink. Dit is bound to happen, dit moet partymaal gebeur, want bewegings kan ook nie vir altyd survive nie. Maar eers moet die energie uitkom, en vloei.

Dit dink ek is wat in ‘n groot mate besig is om te gebeur. Ja, daarmee saam kom ‘n herdink van ons teologie en wat nog meer. Daarmee saam kom ‘n herontdekking van baie van die dinge wat in die beweging-tye van die kerk bestaan het. Maar soek ons nie juis dit nie! Is die nie waar die mooi gevind word nie? In die Reformasie, die Wesley-revivals, die vroeë kerk, die Jesus-beweging (nee, nie die 1970’s s’n nie, maar die een voor 0070 AD).

Ek moes al ‘n paar keer opgewonde hoërskool kinders hoor wat vir my vertel dat ‘n sekere idee wat hulle het om hulle geloof uit te dra of uit te leef nie aan die kerk gekoppel moet word nie. Ek sê dit gewoonlik nie vir hulle nie, maar ek dink tog dit moet, ek dink net sadly is hulle reg, en gaan dit nie werk as hulle idees gekoppel word aan die kerk wat hulle ken nie. Maar daar is baie ander maniere waarop die kerk gewerk het oor die eeue, en by van hulle kan ons gaan leer.

En as jy nie hierdie jongmense verstaan nie? Of as jy dink ons sê hierdie dinge net omdat ons die Gereformeerde leer nog nie goed genoeg verstaan nie, en omdat ons nog net iewers ‘n positiewe ervaring van die institusionele praktyk moet vind… onthou dit, ons is nie kwaad vir die kerk nie, die geskiedenis herhaal homself net telkemale, en dit het tyd geword vir die institusie om weer geboorte aan bewegings te gee…

‘n Rooi Z4 en ‘n renaissance-kasteel

Mei 8, 2008

Ek het ‘n liking in Johan Rossouw gevang toe ek hom die eerste keer hoor praat het by die lentekonferensie laas jaar. Wat hy alles gesê het kan ek nie onthou nie, ek onthou net ‘n ervaring van “na hierdie ou moet mens maar luister”. Eers het ‘n dosent met wie ek nogals baie te doen het my vertel van sy boek ‘n Rooi Z4 en ‘n renaissance-kasteel, en toe word dit skielik uit die bloute vir my voorgeskryf (vir almal in die M.Div klas, ek is reg, dit was uit die bloute uit nê? of het ek iets gemis?).

Ek kom agter daar is gemengde gevoelens oor die boek, maar persoonlik dink ek Rossouw vat iets op briljante wyse raak. Ek sien toe nou net terwyl ek op soek is na iets anders ‘n post wat ek so klompie maade terug geskryf het (ek dink dit mag dalk een van my brighter moments gewees het, maar is oop daarvoor dat ek verkeerd kan wees), wat my weer herinner aan Rossouw, en dat ek nog iets wou skryf daaroor. Of my link met die twee geregverdig is, kan ander maar vir my vertel.

In kort, soos ek verstaan, kom dit daarop neer dat Rossouw skryf oor ‘n groep Pretoria Afrikaners (obviously beteken dit nie alle Afrikaners is so nie, maar ek dink hy erken dit self in sy boek), die nuwe generasie Yuppies. Die Young Upcoming Professionals wat met ‘n sekere tipe charismatics opgelink het (ek verwys spesifiek na ‘n “sekere tipe”, want daar is charismatics wat nie noodwendig so is nie… O, en baie van die charismatics waarmee ek dink hulle opgelink het sit in ons eie NG Kerkie), om wat hy noem die “gnossies” te veroorsaak.

Nou, as jy nie bekend is met gnostisisme nie, lees gerus wikipedia se definisie. Ek het hom nog nie gelees nie, maar wat ek onthou uit my jare van swottings is dat daar ‘n baie sterk dualisme is, wat sê dat hierdie wêreld sleg is, en eintlik nie saakmaak nie. Wat belangrik is, is die “geestelike wêreld”. Wat ek hoor is dat hierdie gnossies van Rossouw hulle godsdiens in ‘n geestelike wêreld vind wat niks regtig te doen het met ons dag tot dag bestaan nie, hulle godsdiens lewer dus geen kritiek op hulle materialisme nie, en noodsaak hulle ook nie om betrokke te raak by samelewings issues nie. Nie dat dit sleg is as mense worry oor die armes ens nie, maar dit help as dit ander mense is, en as dit nie regtig aan ons vat nie.

Wel, ons is almal dalk gedeeltelik vasgevang in hierdie wêreld wat Rossouw beskryf. Hy’t my gewete aangespreek. Hy’t my nogals teruggedwing na die bergpredikasie toe (Matteus 5-7), my laat dink aan Bonhoeffer se radikale interpretasie daarvan in Cost of Discipleship.

Ek vrees Rossouw mag dalk reg wees. Of jy met hom saamstem of nie, ek dink nie dit is leeswerk wat geïgnoreer kan word nie…

The Hairdresser and I…and social responsibility

Januarie 24, 2008

So a few weeks ago I was in my home town in KwaZulu Natal, Vryheid, when I went for a desperately needed haircut. The barbershop I go to when I’m there is operated by a born-again Christian guy called Jonathan Foti, who started out from a small backroom at his house, where we used to go to when I was still in grade 8 or 9. Funny, I remember him before he got born-again…quite a foul-mouthed guy then, but ever since he became a Christian there was nothing of the sort.

Anyway, this is not about him, I’m just telling this because he is our “go to” guy for hair (for me and my dad anyway) when I’m visiting my parents. His hair studio has long been unisex and he has a few ladies working for him.

So I made my appointment and got there on an extremely hot December afternoon. That was about the same time we were doing that volunteer work at Inkululeko Babies Home. As always happens, the hairdresser (a lady) and I started talking about what I do for a living and before long we got into the whole thing about giving money to car guards or not. The conversation then went on to giving to the poor and needy. She also said that she doesn’t like to give to beggars at robots, because they are always there and that only creates more problems than it solves. Incidently, she has also done some volunteer work at Inkululeko but she said she’d rather give money to the organizations that run places like that, she doesn’t quite have the stomach to do the physical work.

Which is fine by me. At least she recognizes the need. At least she is willing to contribute to the answer. At least she isn’t blaming everyone and everything or saying that somebody else should do it.

That gave me hope.

So, yes, you can be inspired by a trip to the hair salon.

You’ve got to keep your mind wide open…” Bridge to Terabithia

My jongste stranddiens ervaring

Januarie 14, 2008

So ons is terug van Stranddiens af. Wat ‘n heerlike ervaring! Oe, dit klink so formeel…

Dit het gerock! Dit was awesome, excellent en flippen cool.

Vandat ons in die kar geklim het by die parkeerterrein van die kerk totdat ons vanmiddag (Sondagmiddag 6 Januarie 2008) so half drie se kant terug was, het ek dit geniet. Ja, natuurlik, om te sê elke liewe dingetjie het glad en sonder probleme verloop, is bloot nie realisties nie, maar dit was vir my regtig een van die heel lekkerste stranddienste. Dit was beslis die stranddiens waarop ek die heel meeste gelag het!

Om ‘n vinnige oorsig oor die week te gee, gaan ‘n mission wees, so ek gaan nou maar vertel soos dit in my kop opkom.

Elke dag se program het dieselfde verloop:
06:30 voogde op die strand
07:00 span op die strand vir bewuswording
08:00 ontbyt
08:45 Bidbuddies
09:00 regmaak vir strandspele
10:00 strandspele (aksiekrieket/touch rugby/sandkasteelkompetisie en strandgames/survivor)
12:30 middagete
13:30 regmaak vir poppekas
14:00 poppekas
14:45 konsertoefening
16:00 aftyd
17:00 Huisbesoek (soms)
18:00 aandete
19:00 bestuurspanvergadering (soms)
20:00 aandprogram (saalspeletjies/talentaand/konsert/praise & worship/youth bash/sokkies/koffiekroeg)
22:00 dagevaluering
23:00 slaaptyd

Die Sondag was daar ‘n erediens in plaas van strandspele en geen poppekas nie en op Oujaar was daar ‘n middernagdiens (wat yours truly moes lei sonder dat ek vooraf daarvan gesê is!).

Dis moeilik om alles te vertel, daar het so baie dinge gebeur. Besoek gerus die NG Vryheid TO Stranddienste group op facebook, dit gaan binnekort baie foto’s en nuwe goed op hê.

Waarby ek wil uitkom, was die ervarings wat ons gehad het.

Die sports en games was lekker, soos altyd en die poppekas was snaaks, soos altyd. Hano en Andreas was weer Wolf en Zebra (die 2 stoutetjies), maar hulle het meer gereëld die nuwe outjies kans gegee om hul plek te begin inneem. Wiam was die een dag die tandarts, Dr Naas, en het ‘n skreeusnaakse debuut-vertoning gelewer. Nogals ‘n natural.

Konsertoefening was maar bedrywig, maar nie so hectic soos wat dit al in die verlede was nie. Ek dink dit het baie te doen gehad met Marnie se aanslag. Sy wou ‘n gemaklike, uit-die-hart-uit konsert gehad het en ek dink ons het daarin geslaag. Ons het ‘n Trip Down Memory Lane gehad en al ons lekkerste mimieke gedoen: Testify To Love, Varkieliedjie, Don”t Stop Me Now, Everyday, In Die Hemel Is Die Heer, Dive, Walk On Water en dan die nuutste toevoeging, Jubeljaar (Louis Brittz-geel cd weergawe). Jubeljaar het net op die regte plek gekom. Ons wopu dit al lankal gedoen het, maar dit was net nooit reg nie – tot vanjaar toe. Soveel pret met een liedjie is moeilik om te hê, maar dit was net vrek lekker! Kudos aan Louis Brittz en al die ander ouens (Avalon, Prophet, Steven Curtis Chapman, Queen) wie se liedjies ons oor soveel jare kon bymekaarmaak en gebruik om deur danse die evangelie daardeur te verkondig. Dankie, dankie, dankie!

Die Praise & Worship-aand was ook awesome. Hierso sê ons onder andere ook dankie aan Michael W. Smith en Retief Burger vir sy bydraes tot gospel wat ons help om lekker te sing en die Here in Afrikaans te loof sonder dat dit klink soos iets uit ‘n kinderkrans-cd opname. Ek en Nelmarie Mahne het ons getuienisse gelewer tussen die liedjies deur en na die tyd was daar koffiekroeg, waar daar baie jongmense was. Daar was regtig meer jongmense as wat gewoonlik by ons praise & worships was en wat daarna vir ons kom vertel het van dinge in hul lewens. Dit was so ‘n lekker warm gevoel, soos wat ek maar altyd het na ‘n geslaagde TO p&w.

Niks kon my egter voorberei vir wat nog sou volg nie.

New years het gekom en gegaan en ek het twee dae voor die tyd gehoor het moet die diens lei en die preek doen. Gelukkig het ek al lankal aan ‘n idee vir ‘n preek rondom die verlore seun se agtergeblewe broer begin dink, maar my eksegese was regtig beperk tot die Nuwe Vertaling en die Heilige Gees se leiding. Gelukkig verwag niemand om ‘n uur lank in ‘n oujaarsdiens te sit nie, so dit kon maar kort wees!

Maar dit was vir my ‘n voorreg om so iets te doen op ‘n plek waar ek eintlik “groot” geword het en wat crucial was in my geestelike vorming. Die random dronk ou wat op die strand vir ons die Onse Vader kom try opsê het vyf minute voor die countdown en die girl wat die outjie wat kamstig besig was om dood te bloei se ma-hulle kom soek het 30 sekondes voor die countdown, was…’n bysaak. Die vuurwerke was mooi (die wat nie op die sand ontplof het nie).

Dit was egter nie die ervaring waarna ek wil verwys nie.

Die dag na ons heerlike feeskonsert was dit karavaan-ruildag in die oord, die 2e Januarie. Dit het beteken dat die meeste van die mense weg is en ons nog net ‘n klomp mense van die chalets en die villas en hier en daar ‘n karavaan gehad het. Die aand het ons ‘n Youth Bash gehou – wat eintlik maar net ‘n anderster tipe praise en worship sou wees. Nedine wou twee video-clips van Planetshakers speel: een vir ‘n intro en een net nadat ek die boodskappie sou lewer by ons “altar-call”-tipe (her)commitment-deel van die aand (julle weet waarvan ek praat!). Toe ons wou begin, wou die dvd nie deur die media players wat ons gebruik het, reg speel nie. So ons besluit toe om maar net aan te gaan met die res van die liedjies.

Ons p&w’s werk gewoonlik so dat ons die woorde in Powerpoint slides op ‘n skerm gooi met ‘n mooi agtergrond en dan werk ons met mp3’s en die program loop sonder aankondiging. Ons begin met ‘n paar lekker op en wakker “Praise” songs en gaan dan oor in rustiger “Worship”songs (ek weet mens onderskei nie eintlik tussen die twee soorte nie, maar dis bloot ter verduideliking). Ek (of die dominee wat saam is, maar gewoonlik ek) lewer dan ‘n kort boodskappie en dan sluit ons af met nog ‘n paar songs, waarvan die laaste een Friends van Michael W. Smith is.

Hierdie een was nie juis verskillend nie, maar ons het die saal ‘n bietjie anderster ge-setup. In die middel van die vloer het ons met papier ‘n kruis gepak en randomly rondom dit kerse in onderstebo polistireen-glase gesit. Die idee was dan om een aan te steek en dan, wanneer jy gereed was om ‘n (her)commitment te maak, dan het jy jou kers gaan aansteek en op die kruis gepak.
Ek het weer met die tema van die verlore seun gewerk, ‘n tema wat regdeur die stranddiens geloop het, van die voorkamp af al. Die ding waarop ons gefokus het die hele tyd was dat jy BY die Fees kan wees, sonder om DEEL van die Fees te wees – of jy nou die jonger of die ouer broer was.

En hier het ek toe, deur die genade van die Heilige Gees, onthou om die storie na albei geslagte toe te verleng – iets wat ek by my proffies op TUKS geleer het. Ek het begin deur vir die mense te sê ek wil vir hulle ‘n storie vertel wat hulle dalk al baie goed ken: die storie van die pa met twee seuns. Of die pa met die twee dogters. Of die pa met die twee kinders…

Ek is só bly dat dit gebeur het, want later was dít die sleutel wat gehelp het dat elkeen wat daar was die verhaal sy of haar eie kon maak.

Die dvd wou toe weer nie speel nie en Nedine speel toe net die liedjie, Saviour King, terwyl die kerse aan die brand gesteek word.
En toe, soos wat die kerse een vir een aangesteek word, het die kinders begin huil. Spanlede, oordkinders, groot en klein, almal was so aangdaan en oorweldig deur die teenwoordigheid van God wat op daardie oomblik so tasbaar geword het, dat dít die ervaring geword het wat ek só gehoop het ek weer op TO sou kon beleef. Al die spanlede het mekaar begin vashou en druk; vriende wat vir die eerste keer saam daar was, soos Wiam en Jan, kon ‘n dun oomblik saam God ervaar en ‘n splinternuwe vlak van vriendskap betreë. Marnie kon vir die eerste keer in ‘n lang tyd eerlik begin wees oor hul situasie by die huis rondom haar sussie wat in die afgelope jaar geskei is. Andreas kon beleef hoedat ander mense by hóm hul kerse kom aansteek. So kan ek aangaan…Ons het almal net by die kruis gaan sit en vir die kerse gekyk, terwyl die musiek net aangehou speel het. Ek het maar net gesorg dat daar die heeltyd musiek is wat in die agtergrond speel (dankie aan Retief en die Luidkeels Hersien-cd, by wie se opname ek was – special stuff).

God was getrou. God het Sy beloftes gehou. Die trane het gerol en God het harte aangeraak.
Wat ‘n aand! Dit is die tipe aand wat jy net op TO Strand kan beleef in die teenwoordigheid van God. As jy al ooit daar was, sal jy weet wat ek bedoel. Andersins hoop ek van harte dat jy al so ‘n nabye ervaring van God saam jou vriende kon beleef of dat jy dit nog sal beleef in hierdie lewe…

Die aand daarna was dit vir die girls nodig om bietjie alleen in hul kamer tyd te spandeer (ons los dit net daar) en toe het ons ouens ook kans gehad om alleen te kon gesels. Wanneer ons in die aande saam afgesluit het, het ek Bybelgedeeltes uit Dawid se lewe hanteer. Dié aand lees ek toe die deel waar Dawid aan Mefiboset, Jonathan se seun, genade bewys en ons chat toe sommer so oor vriendskap en hoe jy jou Christenvriende nodig het, veral by die skool wanneer ‘n mens teruggaan en jy nie meer elke dag in hierdie Stranddiens-tipe opset funksioneer nie. Hoe ons Christus vir mekaar moet wees en hoe ons ware identiteit nie lê in die aktiwiteite waaraan ons deelneem nie, maar in die feit dat ons seuns, manne, van God is.

Die gesprek het ook sy draai by masturbasie en seks gemaak en ek en Hano kon reguit met die hoërskoolouens daaroor gesels. Vir ‘n paar van hulle weet ek dat dit die eerste keer was wat hulle in ‘n geselskap was waar ouens nie iets vuils daarvan gemaak het nie, maar juis kon praat oor hoe mooi dit bedoel is om te wees. Dit was vir my net so ‘n dun oomblik as die vorige aand: die geleentheid om vir jonger outjies te kon wys dat ‘n Christen se lewe regtig lekker is; dat ons nie skaam is oor dinge nie, maar dat ons die lewe in al sy fasette anders (moet) benader as die wêreld rondom ons. Dit was ‘n reuse voorreg om dit wat ek al geleer het, akademies sowel as non-akademies, oor te kon dra aan die jonger ouens.

Hiccups met die spanbestuur, wat net soos in heeltemal afwesig was ten spyt, was dit ‘n Stranddiens wat ek altyd in my hart sal dra, veral ook omdat ek nie seker is of ek (hoe graag ek ookal wil) wel aan die einde van die jaar by die span sal kan aansluit nie.
NG Vryheid Moedergemeente se stranddienste het ‘n manier om hul temas uit te leef en hierdie een was nie anders nie:

Dis Overall ‘n Fees Om ‘n Christen Te Wees!